Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) kan vandag bevestig die vier burgerbeelde op die wêreldbekende Kerkplein, Pretoria, is gevandaliseer.


Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is diep ontsteld oor die onlangse skade wat aan die vier burgerbeelde rondom die Paul Kruger-standbeeld op Kerkplein aangerig is.


Twee geweerkolwe, twee geweerlope en een geweerband is van dié burgerbeelde afgesaag.

Leonie Marais, erfenishulpbronspesialis van die FAK, meen die skade moes onlangs aan die beelde aangerig geword het en sy is diep teleurgesteld oor hierdie vandalisme.


“Ek beskou dit as growwe nalatigheid van die Tshwane-metroraad dat hulle nie die stad se kultuurhulpbronne kan beskerm nie,” sê Marais.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, meen dat hierdie kriminele vernietiging van ons erfenisskatte is.


“Hierdie vier beelde is so deel van Pretoria se geskiedenis en landskap. Die skade wat aan hierdie beelde gerig is, is vanuit ’n kunsoogpunt onberekenbaar. As mens gaan kyk na die kriminele vernietiging van kuns en geskiedenis is hierdie net nog ’n voorbeeld,” sê Langner.

Die FAK gaan ’n saak van opsetlike saakbeskadiging by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aanhangig maak en eis onmiddellike antwoorde oor die veiligheidsmaatreëls wat by Kerkplein in plek is. Die FAK verwag ’n deeglike ondersoek na hoe hierdie sekuriteitsbreuk in ’n ruimte van so historiese betekenis kon plaasvind.


Die FAK doen ook ’n beroep dat die skade aan hierdie beelde spoedig herstel móét word. Die FAK is daartoe verbind om ons erfenis te bewaar en is bereid om ons kundigheid in die restourasieproses aan te bied om te verseker dat hierdie standbeelde so gou moontlik tot hul eertydse glorie herstel word.

“Ons as die FAK is van mening dat die Tshwane-metroraad hulle beskermingsplig versaak het. Ons is egter bereid om saam met die Metroraad te besin oor watter wyse dit moontlik is om hierdie beelde regtig veilig te kan bewaar. Dit gebeur steeds ondanks die hekke en die sekuriteitswag wat daar is. Die FAK sal graag in gesprek wil tree met die munisipaliteit oor die versorging en bewaring van hierdie beeldegroep,” sê Langner.


As beskermers van kulturele en historiese erfenis, is die FAK verbind tot die bewaring van Suid-Afrika se erfenis en versoek die FAK die owerhede om beslissende stappe te neem op sulke dade van vandalisme.

Dit is skokkend om te sien hoe ons simbole en kulturele bakens sistematies vernietig word,” sê Barry Müller, hoof van nasionale projekte by die FAK.

“Dit is vir my verskriklik hartseer om te sien hoe hierdie prominente beelde skade gekry het en dit is nie net hier waar daar vandalisme en afbreek plaasvind nie, maar regoor die land. Hoe meer mense betrokke raak by die beskerming van ons erfenis, kan voorvalle soos juis hierdie een in die toekoms verhoed word,” sê Charles Rademeyer, kultuurkoördineerder by die FAK.

Die FAK het ’n versoek rakende hierdie aangeleentheid aan die Metroraad gerig, maar het nog geen terugvoer ontvang nie.