Op 27 Augustus 2023 het die Bybelgenootskap die 90ste herdekingsjaar van die Bybel in Afikaans by die Voortrekkermonument gevier met ’n spesiale Dankfees.

Sedert die eerste Afrikaanse Bybel is daar minstens 7 vertalings in Standaardafrikaans.

Mense wonder dikwels oor die betroubaarheid van Bybelvertalings. Waarom is die Bybel soveel kere vertaal? As daar ’n nuwe vertaling uitkom, beteken dit die oue is nie meer geldig nie? Waarom verskil Bybelvertalings soveel van mekaar?

Baie van die onsekerheid rondom Bybelvertalings begin by ’n gebrek aan kennis van vertaalkunde as vakdissipline.

Natuurlik is daar menslikheid by die proses betrokke, maar die vertaal proses is ’n weldeurdagte, taalkundige proses en daar is vele kundiges in die veld wat saamwerk om die Bybel te vertaal.

Die doel van ’n nuwe vertaling

Eerstens is dit belangrik om die doel van ’n vertaling te verstaan. Mense besluit nie oornag dat dit tyd is vir ’n nuwe vertaling nie. Bybelvertalings vind plaas, omdat daar ’n baie definitiewe leemte of behoefte in die gemeenskap is vir ’n sekere vertaling. Die 2020-Bybelvertaling se doel was byvoorbeeld om vir mense ’n meer direkte vertaling te gee, maar in Omgangsafrikaans (die Afrikaans wat daagliks gepraat word en nie noodwendig akademies hoogdrawend is nie).

Die tipe vertaling

Sodra die doel van die vertaling vasgestel is, word daar besluit op die tipe vertaling. Hier het die vertaler gewoonlik een van twee opsies: ’n letterlike of brongebaseerde vertaling, teenoor ’n verklarende vertaling. ’n Bron gebaseerde vertaling fokus om so getrou as moontlik aan die oorspronklike teks te vertaal, selfs al maak die inhoud nie noodwendig sin vir die leser nie. Dit word dikwels ook gesien as ’n woord-vir-woord vertaling. Soos dit geskryf staan, so word dit vertaal (natuurlik met die regte sinskonstruksies). ’n Verklarende vertaling fokus daarop om dit vir die leser so goed as moontlik te beskryf in die idioom van die taal wat hy/sy praat. Hebreeuse uitdrukkings wat nie noodwendig in Afrikaans sal sinmaak nie, sal byvoorbeeld met ’n eenvoudiger Afrikaanse woord of term vervang word wat die leser sal verstaan. ’n Voorbeeld hiervan is die woord “nier”. In die oorspronklike tekste word niere dikwels gebruik om na ’n mens se emosies of innerlike te verwys. ’n Bronvertaling sal byvoorbeeld die woord net so oorvertaal, maar ’n verklarende vertaling sal “nier” eerder met die woord “hart” vervang.

Die teikengehoor

Die behoeftes van die teikengehoor sal bepaal watter tipe vertaling gepas sal wees. Die 1983-vertaling is byvoorbeeld ’n verklarende vertaling en dit is hoekom dit so baie van die 2020-vertaling verskil wat ’n brongebaseerde vertaling is. Die een of die ander is nie noodwendig meer of minder betroubaar nie, maar verskill ten opsigte van die teikengehoor se behoeftes.

Elke Afrikaanse Bybelvertaling is uniek en ’n vakkundige kommitee het maande spandeer om dit so akkuraat as moontlik te vertaal en aan te bied. Dus, enige Afrikaanse Bybelvertaling uitgegee deur die Bybelgenootskap, kan met sekerheid vertrou word. Kies ’n vertaling wat aan jou behoeftes voldoen en wat jy voel jy die meeste uit kan gin.

’n Laaste gedagte: Die Bybel in Afrikaans is baie min vertaal in die laaste 90 jaar, teenoor ander Bybelvertalings reg oor die wêreld. Die Bybel is byvoorbeeld oor die 500 keer in Engels vertaal in die afgelope 100 jaar.