Die trompet is ’n koperblaasinstrument wat in verskeie musiekgenres gebruik word en is seker een van die heel oudste musiekinstrumente ter wêreld.

Daar is verskeie verwysings na die trompet in die Bybel en die eerste vers waarin daar van ’n trompet melding gemaak word, is Eksodus 19:19, waarin die trompet geblaas is voordat God die Tien Gebooie aan Moses aangekondig het. In Josua 6 word die geskiedenis vertel van hoe Jerigo se mure met behulp van trompette geval het, en in die Boodskap-vertaling van Joël 2:1 staan daar geskrywe: “Blaas op trompette in Sion om, die mense te waarsku; maak ’n groot geraas op die berg daar in Jerusalem waar my tempel staan!” Daar word ook in die Psalms van trompette melding gemaak, onder meer Psalm 150:3. In die Boodskap-vertaling staan daar geskrywe: “Loof Hom met trompette, kitare en viole”, en in Psalm 98:6 waar daar staan: “Blaas die trompet en die ramshoring, jubel tot eer van die Here, die Koning!” In die Nuwe Testament word daar veral in Die Openbaring na trompette verwys om die oordeel aan te kondig.

Die trompet is in die 14de of 15de eeu vir die eerste keer werklik as ’n musiekinstrument gebruik. Die drie kleppe is gewoonlik van die suier-tipe, maar daar is ook dié met roteerkleppe wat gewoonlik in Duitse orkeste gebruik word. Die gebruik van die trompet as musiekinstrument het in die Middeleeue en tydens die Renaissance-tydperk toegeneem omdat die ontwerp en vervaardiging daarvan verbeter is. Nogtans was daar min klassieke komponiste wat hoegenaamd die trompet in hul komposisies gebruik het. Die mondstuk van die trompet het ’n ronde rand om dit makliker te maak om dit te bespeel, en gewoonlik word dit gedoen deur ’n mens se lippe opmekaar te hou. Die drie kleppe bepaal die toonhoogte van die trompet; die eerste een verlaag die toonhoogte met ’n hele toon, die tweede een met ’n verdere halftoon en die derde een met een en ’n halwe toon. Hoewel dit ’n koperinstrument is, kan ’n trompet ook van ander materiaal, onder meer plastiek, gemaak word.

Die trompet word nie net in klassieke musiek gebruik nie, maar ook in moderne musiekgenres soos jazz en swing. Een van die heel bekendste trompetspelers wat veral bekend was vir jazz-musiek, was Louis Armstrong, een van die oudste kunstenaars wat kommersiële sukses behaal het. Sy treffer, “What a wonderful world”, was internasionaal gewild toe hy diep in sy sestigerjare was. Voor die Tweede Wêreldoorlog was Glenn Miller ’n uiters gewilde orkesleier wat die trompet gereeld in sy musiek gebruik het. Miles Davis was nog ’n gewilde trompetspeler wie se musiekstyl gereeld nagedoen is. Nog ’n trompetspeler wat in dieselfde kategorie geval het, was Dizzy Gillespie, wat omtrent elkeen wat dié instrument later jare bespeel het, beïnvloed het. In die 1960’s het die “big band”-era aangebreek en die musiek van orkesleiers soos James Last en veral Bert Kaempfert, wat die trompet as hoofinstrument gebruik het, het oral aanklank gevind. In Suid-Afrika het Murray Campbell in 1965 ’n treffer met “”Goodbye my love gehad. Sy soloweergawe, waarop hy die trompet bespeel het, het die eerste plek op Springbok Radio se Top 20 gehaal terwyl nog ’n weergawe, waarop hy die trompet bespeel het en Virginia Lee gesing het, self ’n groot treffer geword het. Die ander bekende trompetspeler wat Suid-Afrika opgelewer het, was Hugh Masekela, wat ’n internasionale treffer met “Grazing in the grass” gehad het.

Daar is egter één musikant wat onlosmaaklik met die trompet verbind word en kop en skouers bo die res uitstaan. In die 1960’s het die wêreld vir die eerste keer kennis geneem van Herb Alpert and the Tijuana Brass, wat ’n treffer met “The lonely bull” gehad het. Later het Alpert een van net ’n handjievol kunstenaars geword wat kommersiële sukses as sanger en as instrumentalis behaal het toe “This guy’s in love with you”, wat hy gesing het, ’n treffer geword het. Die ander bekende kunstenaar wat dit kon regkry, was Elton John. Nog ’n treffer wat hy in daardie tyd as instrumentalis saam met sy orkes gehad het, was “A taste of honey”. Hy het in 1979 egter sy grootste sukses behaal met sy album Rise. Die titelsnit was die laaste nr. 1-treffer van die 1970’s op die Amerikaanse trefferslys en vroeg in 1980 het hy die derde plek op die Suid-Afrikaanse treffersparade behaal. Sy grootste bydrae tot musiek was egter A&M Records, wat hy in 1962 saam met Jerry Moss gestig het en ’n trompet as embleem gehad het. Onder die bekendste kunstenaars en groepe wat platekontrakte by hierdie maatskappy losgeslaan het, was The Carpenters, Sting (as solokunstenaar en saam met The Police), Chris de Burgh, Bryan Adams, Joan Armatrading, Styx en Supertramp.

Benewens die genoemde musiekgenres word die trompet, saam met die beuel wat verskil in die sin dat dit geen kleppe bevat nie, gereeld in kadet- en militêre orkeste gebruik. Onder die bekendste militêre marse wat met die trompet verbind word, is die Radetzky-mars van Johann Strauss (senior), wat opgedra is aan veldmaarskalk Jozef Radetzky von Radetz en John Philip Sousa se patriotiese “Stars and Stripes forever”, wat tot die amptelike nasionale mars van die Verenigde State van Amerika verklaar is. Een van die bekendste klassieke komposisies vir die trompet is Jeremiah Clarke se “Trumpet Voluntary”, wat omtrent in 1700 gekomponeer is en in 1981 tydens die huweliksbevestiging van Koning Charles III en Lady Diana Spencer gespeel is.

Hierdie artikel is geskryf deur Daantjie Badenhorst.