Mediaverklaring
17 Februarie 2023
Die “vader van Afrikaans” landswyd vereer
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het gister, op die geskiedkundige geboortedag van die “vader van Afrikaans”, Arnoldus Pannevis, sy lewe en sy bydrae tot die stigting van Afrikaans as amptelike taal landswyd gevier.
Van die Kaap tot in Transvaal het die Kaapse kultuurnetwerk leerders geïnspireer en die liefde vir Afrikaans weer laat opvlam.
In die suide, by die skool waar Pannevis self skoolgegee het, Laerskool Paarl Gimnasium, het die leerders van die skool terug in tyd gestap na die dae wat Pannevis oor die gronde gestap het.
Oudhede van daardie tydperk is uitgedra, gesprekke oor Pannevis is gevoer, van sy gedigte is voorgelees en foto’s is geneem van “skoolmeester Pannevis” in ’n toga en sy leerders op die skool se Pannevisplein.
Miné King en Mienke van Heerden, leerders van Laerskool Paarl Gimnasium sê: “Dis ’n eer om ’n leerling in Laerskool Paarl Gimnasium, waar Arnoldus Pannevis een van die eerste onderwysers was, te wees. Ons moedertaal, Afrikaans, waarop ons natuurlik vreeslik trots is, het hier in ons eie skool ontstaan.”
In die noorde het die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria (Affies) ook hierdie taalpionier gedenk.
Huis Pannevis, Affies se oudste koshuis, is reeds in 1975 tot hierdie pionier vernoem. Die koshuis is in 1930 in gebruik geneem en het vir 45 jaar as Seunstehuis bekendgestaan. Onder André Ferreira, Afrikaansonderwyser, se leiding het die koshuisgange van die nuwe koshuis in 1975 die volgende name gekry: Huis Malherbe, Huis Hoogenhout, Huis Reitz en Huis Du Toit. Die bestaande koshuis is Huis Pannevis gedoop.
Vir Dirk Taljard, kultuurhoof by die Afrikaanse Hoër Seunskool, is die praat van suiwere Afrikaans belangrik. Dié hoërskool is steeds ’n suiwer Afrikaansmedium.
“Ons leef en werk in Afrikaans,” sê Taljard.
Arnoldus Pannevis is op 16 Februarie 1838 in Oudekerk, Nederland gebore. In 1866 emigreer hy na Suid-Afrika en aanvaar ’n onderwyspos by die Paarlse gimnasium.
Hy was baie wel ter tale, goed onderlê in Nederlands, Grieks, Latyn, Frans, Duits en Engels met ook ’n redelike kennis van Spaans, Italiaans, Deens en Sweeds. In die losieshuis waar hy tuisgaan in die Paarl hoor hy ’n ander taal wat vir hom baie mooi klink. Hy begin mense se oë oopmaak vir die bestaansreg en bruikbaarheid van hierdie taal, wat hy later Afrikaans noem, en begin hom daadwerklik beywer vir hierdie saak waaroor hy so sterk voel. In privaat gesprekke en klasse lig hy sy opinie hieroor.
As diep gelowige man het die vertaling van die Bybel in Afrikaans hom na aan die hart gelê. In 1872 begin hy briewe skryf aan die koerant en Britse Bybelgenootskap oor die belangrikheid hiervan. Indirek lei hierdie briewe tot die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners op 14 Augustus 1875.
Arnoldus Pannevis sterf op 14 Augustus 1884, op die dag nege jaar na die stigting van die GRA, sonder enige familie. Hy is te ruste gelê in die grafkelder van ds. GWA van der Lingen by die Strooidakkerk in die Paarl. Van hom kan gesê word dat hy Afrikaans beklee het met die volle waardigheid van ’n selfstandige taal. Sy droom van ’n Bybel in Afrikaans is egter eers na sy dood in 1933 verwesenlik.
Die FAK verwelkom die gemeenskap om by hul projekte, op taalfront, sowel as kultuurfront, betrokke te raak. Kontak gerus vir barry@kultuurtuiste.org.za om betrokke te raak.