𝗕𝘆 𝗕𝗹𝗼𝘂𝗸𝗿𝗮𝗻𝘀
– 𝘾. 𝙇𝙤𝙪𝙞𝙨 𝙇𝙚𝙞𝙥𝙤𝙡𝙙𝙩
Die koperkapel kom uit sy gat
En sluip die rantjie rond:
“Dit het gereën; die veld is nat
En nat is die rooi-geel grond.”
Die meerkat kom en sy ogies blink,
En hy staan orent en wag,
En die stokou ystervark sê: “Ek dink
Die reën kom weer vannag.”
Maar die geitjie piep: “Dis glad nie reën;
Dis klewerig, swart en rooi;
Kom jy sulke reën in jou lewe teen,
So glad, so styf, so mooi?”
En die wys ou steenuil waag sy woord:
“Dis bloed, dis mensebloed.
Dis lewensbloed, wat ongestoord
Ons bossiewêreld voed.”

Op die nag van 16 Februarie 1838 het ’n oorweldigende Zoeloemag die Voortrekkerlaers aangeval. Ongeveer 282 Voortrekkers, wat 185 kinders insluit, is vermoor en sowat 250 bruinmense wat saam met die Voortrekkers getrek het, is daardie nag wreed vermoor.

Die Voortrekkers het nie eens geweet dat Retief en sy manskappe enkele dae voor die Slag van Bloukrans ook wreed en brutaal vermoor is nie.

Later, in April, sterf Piet Uys met die Slag van Italeni. Potgieter word bestempel as ’n lafaard en trek noorde toe. Maritz sterf.

Die Voortrekkers was so te sê leierloos.

Die koms van Andries Pretorius bring hoop. Pretorius was ’n gesiene man en dinamiese leier. Hy het veel later eers besluit om die Kaapkolonie te verlaat, maar sluit hom aan by die Voortrekkers en antwoord op hul roepstem.

Vryheid en onafhanklikheid is nog altyd die Afrikanervolk se strewe. Selfbeskikking is dalk ’n beter woord om dit op te som. Die koms van Andries Pretorius bring weer hoop om hierdie vryheidsideaal ’n realiteit te maak.

Op 9 Desember 1838 word die Gelofte vir die eerste keer afgelê en so gedoen met die besef watter verantwoordelikheid dit op jou nageslag plaas. Genade van bo heers en wonderwerke vind plaas. Die stryd is gewen.

185 jaar ná die Slag van Bloedrivier is dit steeds een van die keerpunte in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Nie net het dit vir die Afrikaner sy voortbestaan in die land bevestig nie, maar soos ’n klippie wat in water gegooi word rimpelings veroorsaak, so kring die gevolge van dáárdie dag steeds uit.

’n Mens kan die aanname maak dat, indien die oorwinning nie by Bloedrivier behaal is nie, ’n tweede Bloukrans in ons geskiedenisboeke geskryf sou staan. ’n Tweede Groot Moord wat ons verhaal heeltemal sou verander.

Die oorwinning op 16 Desember 1838 is nie deur die Voortrekkers behaal nie, maar deur God. Daarom kom ons steeds jaar na jaar byeen en eer God vir die wonderwerke wat dáárdie dag geskied het.

Dit was alles deel van God se Raadsplan, want die belangrikste gevolg van die oorwinning by Bloedrivier, wat vandag steeds uitkring, is die verspreiding van die evangelie. Ná die oorwinning is ’n Bybel in ’n wakis en oordenkings in die veld verruil vir ’n kerkgebou en die vestiging van die evangelie in Suid-Afrika, veral in die binneland.

Alhoewel verskeie sendelinge in die geskiedenisboeke vermeld word en verskeie kerke hul boodskappers die binneland ingestuur het, is die kerk eers gevestig met die koms van die Voortrekkers.

As Christene is ons Skeppingsdoel om God te eer in alles wat ons doen en om vissers van mense te wees.

Die verbond wat die Voortrekkers met die Here gesluit het, het daartoe gelei dat ons vandag steeds openlik die Woord kan verkondig. Met die bou van die Geloftekerk in Pietermaritzburg was die pad vir die verspreiding van die evangelie gebaan. Ons voorouers het in alles wat hulle gedoen het, God sentraal geplaas. Wanneer ’n mens kyk na die uitleg van ou stede, soos dié van Pietermaritzburg, merk die kerkgebou altyd die sentrale punt van die dorp.

Die oorwinning by Bloedrivier is vir baie mense ’n bevestiging van God se almag. Elke jaar op 16 Desember word die Gelofte regoor die land gevier, maar die groter oorwinning daardie dag was vir die evangelie. Vandag kan ons Jesus Christus se bevel in Mattheüs 28:19 met oorgawe en vrymoedigheid nakom: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”

Met die Groot Trek-eeufeesviering van 1938, is die Geestelike Eeufeesmonumentfonds (GEM) gestig met die doel om sendingwerk onder Zoeloes te bevorder. Later, in 1944, is die Dingaanstat Sendingstasie gebou. Daar is leraars opgelei en dissipels van mense gemaak. Só het die Afrikanervolk ’n rol gespeel in die groter raadsplan van God en bly die oorwinning by Bloedrivier eerder ’n bevestiging dat God alles vir dié wat Hom liefhet, ten goede laat meewerk (vgl. Rom. 8:28).

Vandag word die Woord regoor Suid-Afrika verkondig. Die Bybel word vertaal in al 11 amptelike tale in Suid-Afrika. So hoor elke stam en taal en volk en nasie die evangelie. Dít is die ware oorwinning van die Slag van Bloedrivier.