Geseënde Hemelvaartdag!
“Hy het hulle geseën terwyl Hy weggegaan het van hulle. God het Hom na die hemel geneem.” Lukas 24:51 (ABA-vertaling)
Wat ’n diep en kragtige oomblik! Voordat Jesus opgevaar het na die hemel, het Hy nie net vertrek nie – Hy het geseën. Sy laaste daad op aarde was ’n seën, ’n profetiese handeling van liefde, genade en bemagtiging.
Hy het nie Sy dissipels in onsekerheid agtergelaat nie, maar onder die oordadige vloei van Sy seën. Dit wys ons dat Hemelvaart nie net oor vertrek gaan nie, maar oor voortsetting – van Sy teenwoordigheid, Sy beloftes en Sy seën in ons lewens.
Wanneer jy vandag opkyk na die hemel, weet: Jy staan steeds onder Jesus se seën. Hy is nie weg nie, Hy is verhoog! Hy het jou nie verlaat nie, Hy het jou geseën. Ons kan vandag met hoop en sekerheid leef, want Sy hand is steeds oor ons uitgestrek.
En wanneer ons vanaand op Hemelvaartdag ons oë sluit, doen ons dit met ’n diep dankbaarheid vir God se genadeporsie wat elke dag genoeg is. Ons is ook, in die gees van die viering van Afrikaans se 100ste bestaansjaar as amptelike landstaal, dankbaar om God in Afrikaans, met ’n Afrikaanse Bybel in die hand, te kan loof en prys. Op 29 Mei 1933, presies 92 jaar gelede, seil die Carnavon Castle-skip Tafelbaai binne met ’n besending van 10 000 eksemplare van die eerste volledige Afrikaanse Bybel aan boord.
Die eerste Bybelgedeeltes is deur CP Hoogenhout in Afrikaans vertaal, maar nooit gepubliseer nie. Volgens die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), wat 150 jaar gelede beslag gekry en ʼn sleutelrol gespeel het in die oorgang van Afrikaans as ʼn informele omgangstaal tot ʼn volwaardige amptelike landstaal, het dr. Arnoldus Pannevis in 1872 reeds ’n openbare pleidooi gelewer vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans. Die eerste volledige weergawe van die Bybel (ook bekend as die 1933-vertaling) is vertaal deur prof J.D. du Toit (Totius), prof. E.E. van Rooyen, prof. J.D. Kestell, prof. B.B. Keet en dr. H.C.M. Fourie.
Deel die geskiedenis en feite van die Bybel met jou kinders: https://weet.co.za/skoolwerk/lewensvaardighede/die-bybel/