Die bekende beeld van generaal Koos de la Rey in Lichtenburg het wéér onder vandale deurgeloop en dit is vir die FAK duidelik dat die plaaslike owerhede ’n veer voel vir die kulturele erfenis van dié dorp.
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het op 31 Maart dié skokkende voorval ontdek na ’n besorgde inwoner hom tot die Facebook-blad Ghost towns and abandoned places SA gewend het om die wandaad bekend te maak.
Leonie Marais, bedryfshoof: erfenisrisiko’s by die FAK, sê hierdie voorval is net nog ’n bewys van die Ditsobotla-munisipaliteit se traak-my-nie-agtige houding jeens erfenisbewaring in hul dorp.
Marais het ’n brief aan die plaaslike munisipaliteit gestuur waarin die FAK sy kommer uitspreek oor die stand van erfenis in Lichtenburg en vra die plaaslike regering se samewerking om dié beeld te verskuif. Sy het egter min vertroue dat hulle enigsins gehoor gaan gee hieraan.
“Ons (die FAK) het telkemale probeer om met die Ditsobotla-munisipaliteit in verbinding te tree oor die toestand waarin die erfenis van die dorp verkeer, maar word elke keer met stilswye gekonfronteer,” sê Marais.
“Hierdie skrywe is ons laaste een.”
Met dié skrywe stel die FAK ’n ultimatum aan die munisipaliteit om aan dié organisasie se pleidooie gehoor te gee.
“Sou die munisipaliteit nie binne die volgende 14 dae op ons versoek reageer nie, aanvaar ons as die FAK dat hulle instem tot die skuif van die bekende beeld en gaan ons oor tot aksie.”
Marais verduidelik dat die volgende stap is om met die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronneagentskap (SAHRA) te begin onderhandel om die beeld op die Lichtenburg-plein te verwyder en na ’n veilige plek te verskuif.
Die FAK moes in 2023, ná die Ampie Bosman-museum op dié dorp afgebrand het, ook inspring om waardevolle erfenisskatte, soos die stukke van Nonnie de la Rey se oorspronklike spaaider, te herstel.
Dié wa is deur prof. Erik Holm, in samewerking met die FAK, herstel en verskuif na die Voortrekkermonument in Pretoria waar dit nou deel uitmaak van ’n spoguitstalling by die Kruger-galery.
Afgesien van De la Rey se spaaider is bykans elke voorwerp, historiese dokument, beeld en foto wat in die museum gepryk het, onherstelbaar beskadig.
Die FAK het tóé reeds met die plaaslike owerhede probeer onderhandel om met meer erns na hul plaaslike erfenis om te sien, maar het geen samewerking gekry nie.
Buiten vir die onlangse vandalisering van die De la Rey-beeld het die bekende Taalmonument ook deurgeloop en die bronsbeeld bo-op die sfeer (’n stel hande wat ’n Bybel vashou) is afgesteel. Die Voortrekkereeufees-monument het ook in die slag gebly.
Die FAK trek nou ’n lyn in die sand en eis dat die beeld so gou as moontlik geskuif word.
Wil jy hê De la Rey moet skuif en waarheen?
Stuur vir ons jou antwoord (onthou jou naam en van) na ons WhatsApp-lyn 081 586 7048. B’s en V’s geld.