(Hierdie artikel is aangepas uit hoofstuk 7 van Norme vir Afrikaans (5de uitg.) deur prof. Wannie Carstens.)

Volgens die HAT is ’n anglisisme “’n vorm wat onder Engelse invloed in ’n ander taal opgeneem word, ook en veral sodanige vorm wat in stryd is met die sisteem van die ontlenende taal.”

Opgesom: ’n anglisisme is ’n woord wat in vorm soos ’n Afrikaanse woord lyk, maar eintlik die Engelse taalmodel volg en dus in stryd is met die idioom van Afrikaans en die reeds bestaande Afrikaanse uitdrukkings bedreig.

MAAR

’n Anglisisme is ’n regte wolf in skaapklere en moeilik om raak te sien sonder deeglike naslaanwerk. Jy moet dus baie versigtig wees voor jy iemand van anglisistiese taalgebruik beskuldig en dan dalk self deur die wolf gehap word.

Dis hoekom jy versigtig moet wees:

1. Afrikaanse en Engels het ’n gemeenskaplike herkoms.

Beide tale het omtrent 2000 jaar gelede uit dieselfde Suid-(Wes-)Germaanse dialekte ontwikkel en daarom sal daar altyd parallelle tussen die tale wees. Kyk maar na woorde soos baard (beard), been (bone), bier (beer), breek (break). Dit is ook wat maak dat sommige sinne in beide Afrikaans en Engels gelees kan word en dieselfde betekenis het, bv. My hand is in warm water.

2. Romaanse en Dietse leenwoorde

Afrikaans en Engels het ook ’n gemeenskaplike Romaanse herkoms. Hieruit spruit woorde soos konklusie, korrigeer, observasie en so meer. Hierdie woorde is nie anglisismes nie, want dit is glad nie uit Engels oorgeneem nie en is deel van die Afrikaanse woordeskat.

Die groter gedeelte van die Afrikaanse woordeskat bestaan egter uit Dietse herkoms (geërf uit 17de-eeuse Hollands). Afrikaanssprekendes word aangemoedig om hierdie woorde te gebruik om verwarring te vermy, alhoewel die Romaanse vorme nie verkeerd is nie.

3. Navorsing is nodig

Taalkundiges is oortuig dat die herkenning van anglisismes ’n gevorderde vakmanswerk is. Kennis van Middelnederlandse dialekte, die oorstemmende tydperk se Platduits, goeie kennis van hedendaagse en verledetydse Engels in Suid-Afrika en in die wêreld asook deeglike kennis van die Afrikaanse tradisie sedert die 20ste eeu is nodig om ’n oordeel te vel. Dit is nie ’n vinnige beslissing nie – selfs vir iemand met ’n BA graad in Tale.

4. Nie alles anglisismes is sleg nie

Sommige woorde het ’n groter lewensvatbaarheid as die bestaande Afrikaanse woord en verryk Afrikaans. ’n Voorbeeld hiervan is aansitter (self-starter) in plaas van die vakwoord knormoer.

5. Die noodsaak van leenwoorde

Woorde kan slegs uit ’n taal ontleen word as daar ’n definitiewe leemte in die taal is. Dit beteken dat daar nie reeds ’n bestaande woord of term is nie. Op hierdie manier word die taal ontwikkel. Voorbeelde van Engelse leenwoorde is soos tennis, rugby, stres, steak ens.

6. Afrikaans en Engels lyk vormlik baie dieselfde

Afrikaans en Engelse woorde lyk vormlik baie dieselfde, daarom kan elke vreemde Afrikaanse woord nie dadelik as “onsuiwer” bestempel word nie. Engels is ook vandag Afrikaans se kontakmiddel met die buiteland, daarom sal daar altyd beïnvloeding wees. Dit is nie noodwendig negatief vir die taal se ontwikkeling nie.

Anglisismes waarvoor jy wel kan pasop:

Fonetiese anglisismes

Wanneer die klem op die verkeerde plek in die woord geplaas word en ’n woord verkeerd uitgespreek word as gevolg van die Engelse neiging.

Byvoorbeeld: abstrak in plaas van abstrak, minister in plaas van minister, “priefek” in plaas van prefek, “monioement” in plaas van monument.

Grammatiese anglisismes

Dit is sinne, woorde of frases wat die Engelse grammatikale reëls in teenstryding met Afrikaans volg.

Byvoorbeeld:

Ek gaan skool toe môre in plaas van Ek gaan môre skool toe.

Hy is mees moderne sanger in plaas van Hy is die modernste sanger.

Sy dra brille in plaas van Sy dra ’n bril.

Sintaktiese anglisismes

In Afrikaans verander die sinsvolgorde na die woord “dat” wat nie die geval is in Engels nie.

Byvoorbeeld: Ek dink dat ek het my hoed tuis vergeet in plaas van Ek dink dat ek my hoed tuis vergeet het.

Grafiese anglisismes

In Afrikaans word samestellings vas geskryf, maar in Engels los. Samestellings wat los geskryf word, geld as anglisismes.

Byvoorbeeld: huis werker in plaas van huiswerker, Eerste laan in plaas van Eerstelaan.

Leksikale en idiomatiese anglisismes

In hierdie gevalle word ’n woord direk uit Engels vertaal, terwyl die bestaande Afrikaanse woord verdring word.

Byvoorbeeld:

Sy was in tyd vanoggend in plaas van Sy was betyds vanoggend, Hulle groei blomme in plaas van Hulle kweek blomme.

Wat dink jy?

Voel jy baie sterk oor taalsuiwerheid, of is jy van mening dat solank die boodskap oorgedra word, maak dit nie saak nie?