Dit was die afgelope naweek ’n jaar sedert die afsterwe van die skrywer dr. Dan Sleigh op 28 Julie 2023.

Saam met die Stigting VOC, van wie dr. Dan Sleigh ’n stigterslid was, onthou die FAK ’n man wat ’n onberekenbaar groot bydrae gelewer het tot geskiedskrywing.

Die direksie van die FAK het as volg oor hom berig ten tye van sy afsterwe.

Met die afsterwe van dr. Dan Sleigh het Afrikaans een van sy mees gewaardeerde akademici en skrywers verloor. Die FAK treur saam met sy familie, vriende en die Afrikaanse taalwêreld oor sy heengaan. Tegelyk dink die FAK met groot dankbaarheid en bewondering terug aan die merkwaardige geskenk wat hy vir ons was.

Dr. Sleigh het op buitengewone wyses op twee verskillende terreine van die kultuurlewe gepresteer. Sowel in die wêreld van die letterkunde (vanaf die digkuns en die jeugverhaal tot en met die roman) as in die wêreld van die geskiedskrywing het hy werke gelewer wat ’n diep en blywende indruk op ons en sy talle lesers gemaak het.

’n Uitsonderlike kwaliteit van sy prestasies was dat sy literêre werke en sy geskiedskrywing as’t ware by mekaar aangeleen het. Sy literêre werke, onder meer die veel bekroonde Eilande en die latere 1795, het ’n besondere deur op die geskiedenis van veral die vroeë Kaap oopgemaak. In vele opsigte kan hulle as onvergelykbare verbeeldingsvlugte in die geskiedenis beskryf word. Tegelyk was sy historiese werke self nie net deur deeglike navorsing ondersteun nie, maar sy skryfvaardigheid het hom in staat gestel om sy navorsing op ’n boeiende wyse vir die groter publiek toeganklik te maak. ’n Tipiese voorbeeld hiervan is Retoervloot – Kaapstad en die VOC in 1713. In dié laaste groot historiese werk uit sy pen neem hy die leser op ’n goed geboekstaafde maar boeiende reis na die uitsonderlike VOC en die invloed daarvan op die vroeë agtiende-eeuse Kaap.

Sy afsterwe verlede jaar het gevolg na die 250-jaar-herdenking van die heldedaad van Wolraad Woltemade op 1 Junie 1773. By hierdie geleentheid het hy sy laaste openbare lesing aan ’n gehoor van ongeveer 80 mense gelewer. Luister gerus na hierdie besondere lesing op 3 Junie 2023 op die FAK se digitale platform by https://www.youtube.com/watch?v=urSvIxsq6iU

Foto: Maroela Media