In 1654 teken Jan van Riebeeck in sy dagboek aan dat ’n paar lemoen- en suurlemoenboompies in dié jaar vanaf St. Helena-eiland en van Indië na die Kaap gebring is en op twee plekke geplant is, in die Kompanjiestuin en op Van Riebeeck se plaas Bosheuwel. Hierna het nog vele besendings lemoenbome gevolg. Die sitrusbedryf in Suid-Afrika kom toe tot stand.

Sewe jaar later, op 25 Julie 1661, skryf Van Riebeeck in sy dagboek dat hy en sy vrou die eerste twee lemoene in die Kompanjiestuin gepluk het en spreek hy die hoop uit dat die boompies sommer nog baie lemoene sal lewer. “’s Namiddags heeft den Commandeur Riebeeck met sijn huijsvrouw d’ eerste twee lemoenen van een boomtjen in Compagnie’s thuijnen staende affgepluckt, sijnde fray geel gecouleurt ende al moij groot, St. Helena’s slagh, van jonge boomtjens voor dato vandaer doen haelen, en te hopen datter haest meer sullen beginnen te dragen.”

Dit sou later jare bekend raak waarom lemoene goed was in die behandeling van die gevreesde skeurbuik wat so baie matrose destyds opgedoen het.

Op 25 Julie 2024 het die FAK-personeel van die Kaapse kantoor hierdie brokkie Kaapse VOC- geskiedenis met hul kollegas in die beweging gaan deel en tydens besoeke aan die kantore van AfriForum, Solidariteit, Helpende Hand en Ons Plek lemoenkoeke en lemoene uitgedeel en sommer net lekker saam geskerts en gesels oor Jan van Riebeeck se lemoenbome en sy dagboek.

“Dankie vir julle vriendelike ontvangs en gesellige samesyn,” het Elizma Smith, kultuurkoördineerder van die Suidelike streek, dankbaar uitgespreek. “Dit was heerlik om geskiedenis so te kon deel.”

Hoe lyk Jan van Riebeeck se lemoenboomonderneming vandag? Baie jare later is met die uitvoer van lemoene begin toe die eerste 3000 kiste lemoene in 1907 op die mark in Londen verkoop is en die volgende jaar opgevolg is met 14 454 kiste na Londen.

Vandag beslaan lemoene ongeveer 60% van Suid-Afrika se sitrusuitvoere en word geproduseer in onder meer die Wes-Kaap, Limpopo en Oos-Kaap.