Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Afrikaanse Protestante Akademie (APA) het op 13 Augustus ’n huldeblyk aan die Afrikaanse taal en kultuur gebring met ’n luisterryke Eeufeesglansaand in die historiese Senotaafsaal van die Voortrekkermonument. Die geleentheid was ’n hutspot van geskiedenis, musiek, poësie en gesellige samesyn – alles in die gees van ’n taal wat deur dekades heen ’n volk se hartklop gebly het.

Die Eeufeesglansaand vorm deel van die FAK se weeklange viering van 150 jaar sedert die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in Augustus 1875 gestig is – ’n mylpaal in die Afrikaanse taalgeskiedenis.

“Ons vier hierdie geleentheid uit dankbaarheid en omdat die akademiese wêreld ’n rol het om Afrikaans te bevorder,” sê ds. Aubrey Hough, programorganiseerder verbonde aan die APA.

Die program is met ’n historiese reis afgeskop – vanaf Jan van Riebeeck se aankoms in die Kaap in 1652 tot sleuteloomblikke soos die Groot Trek, die verengelsingsbeleid wat aanleiding gegee het tot die stigting van die GRA, en uiteindelik die erkenning van Afrikaans as ’n amptelike landstaal presies ’n eeu gelede.

Tydens sy voorlesings het Hough die gehoor laat stilstaan by die plek van Afrikaans in die kunste, in tye van vreugde én van hartseer, en ’n blik op die toekoms van die taal gewerp.

Verskeie kunstenaars het met orrel, trompet en liedere in ’n harmonie van hartlikheid en diepgang aan Afrikaans dankie gesê, ons taalpad onthou en ’n toekomsblik op hierdie jong en pragtige taal gegee.

Die program was boordensvol musiek wat die tema van ’n ode aan Afrikaans versterk het en die liedere wat die gehoor saamgesing het, het die saal met ’n merkbare warmte en samehorigheid gevul – van die helder trompetklanke wat soos ’n oproep tot fees en herdenking deur die Senotaafsaal gesweef het, tot die diep, sielvolle weerklank van die orrel wat die luisteraars een met dié magiese en monumentale ruimte gemaak het.

Deur die loop van die aand het musiek, stories en samesang ’n emosionele landskap geskep van trots en dankbaarheid, herinnering en hoop.

Vir die organiseerders het die keuse van die Senotaafsaal besondere betekenis gedra. “Die Voortrekkermonument het ’n spesiale plek in die Afrikaner se hart,” sê Hough. “Dié ruimte, met sy indrukwekkende akoestiek en die senotaaf wat sentraal staan, skep ’n atmosfeer van eerbied – ’n gepaste ruimte om die erfenis van Afrikaans te vier.”

Die Eeufeesglansaand was nie slegs ’n nostalgiese geleentheid nie, maar het ’n sterk oproep tot volgehoue betrokkenheid by die taal ingehou.

“Die Eeufeesglansaand was ’n seremonie van waardering, ’n viering van identiteit en ’n verklaring van voorneme om Afrikaans se nalatenskap te bewaar,” sê Dawid Brand, bedryfshoof: beeld en groei van die Kultuurtuiste.

“Geleenthede soos dié is nie net vermaak nie, maar ’n strategiese en noodsaaklike handeling om Afrikaans se sigbaarheid en status te versterk. Die Eeufeesglansaand het by uitstek daarin geslaag om oud en jonk, die historiese en hedendaagse, erns en vreugde, soos ’n tapisserie te verweef.

“Om die belang en die waardering van Afrikaans te besef, beteken om aktief te help bou aan haar toekoms,” sê Brand. “Dié boodskap het inslag gevind by die gehoor, wat duidelik die erns verstaan om Afrikaans lewend en relevant in ’n veranderende wêreld te hou.”

Soos die klanke van die laaste lied teen die koepel van die Monument weerklink het, was dit duidelik: Afrikaans leef nie net in boeke of klaskamers nie, maar in die stemme, harte en dade van dié wat haar ryk verlede en hoopvolle toekoms koester.