Soos ’n mens deur die rye grafte in die Heldeakker stap, lees jy nie net name soos Pretorius, Kruger, Pierneef, Marais in granietblaaie geëts nie, jy lees die diepgewortelde verhaal van Afrikaans – ’n storie wat my én jou verhaal vandag nog vorm!
Die Heldeakker is ’n geskiedkundige deel van die Kerkstraat-begraafplaas in Pretoria se middestad en die laaste rusplek van verskeie invloedryke leiers en kultuurfigure. Van die noemenswaardige figure wat hier begrawe is, sluit in Andries Pretorius, Paul Kruger, Stephanus Schoeman, Willem Cornelis Janse van Rensburg, Thomas François Burgers, Hendrik Verwoerd, Jopie Fourie, Eugène Marais, Gezina Kruger, Jan F.E. Celliers, J.G. Strijdom, Desiré de Villiers, Alois Nellmapius en J.R.R. Tolkien (die bekende skrywer van die gewilde Lord of the Rings-boeke se pa).
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), saam met organisasies soos die Rapportryers Beweging en BCVO bou vanjaar voort op die organisasie se jarelange verbintenis tot die behoud van die historiese Heldeakker-begraafplaas sodat dit nog vir baie geslagte behoue kan bly.
Elke eerste Saterdag van die maand kom FAK-lede en vrywilligers bymekaar om die terrein in stand te hou deur onder meer die gras te sny en die grafte skoon te maak.
Volgens Leonie Marais, Bedryfshoof: Erfenisstigting, durf ons enersyds nie ons erfenis en betekenisvolle historiese bakens afskeep nie, en andersyds kán dit nie in die hande van munisipaliteite of plaaslike regerings gelaat word nie.
“Met elke maandelikse besoek laat die FAK die kollig op een van die figure skyn wat diep spore in die geskiedenis van Suid-Afrika getrap het en hiér begrawe is. Deur die verhale van hierdie historiese figure te deel, word hul unieke bydraes herleef en ’n dieper waardering vir hul grootse bydrae tot die Suid-Afrikaanse geskiedenis gekweek,” sê Marais.
Die bewaring van die Heldeakker asook die gereelde instandhouding daarvan is ’n gebaar van respek en eerbied, sê Dawid Brand, Bedryfshoof: Beeld en Groei van die FAK en Voortrekkermonument.
“’n Skoon en goed versorgde begraafplaas – iets wat vandag bykans ongekend is – bied nie net vertroosting aan gesinne en geliefdes nie, maar verseker die beskerming en koestering van ons kulturele identiteit. Die bewaringsfakkel word van geslag tot geslag oorgedra. Dit is ’n voorreg én verantwoordelikheid wat elkeen van ons moet aangryp. Dit vra ’n doen-ingesteldheid van ’n nuwe geslag verskilmakers wat ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms wil bou.
“Dit is presies wat dié FAK-inisiatief ontsluit: dit poog om vernietiging, verval en vandalisme te stuit, bevorder omgewings- en erfenisbewaring, én verhoog op die koop toe die estetiese waarde van die gebied. Gemeenskapsbetrokkenheid is egter die sleutel tot bewaringsukses en verseker dat toekomstige geslagte geskiedkundige figure en bakens met waardigheid en respek kan vereer en waardeer,” sê Brand.
Die FAK nooi individue en organisasies uit om aktief deel te neem aan die maandelikse skoonmaak- en opvoedkundige sessies by die Heldeakker. Teken gerus die volgende geleenthede in jou dagboek aan:
• 1 Maart 2025
• 5 April 2025
• 3 Mei 2025
• 7 Junie 2025
• 5 Julie 2025
• 2 Augustus 2025
• 6 September 2025
• 4 Oktober 2025
• 1 November 2025
• 6 Desember 2025
Help ons om betekenisvolle bakens soos dié te onderhou. Stuur ’n WhatsApp met die woord “Vriend”, jou naam en van na 081 586 7048.