Erfenismaand, in die Vrystaat, is by die FAK se Udolpho Rivierplaas gevier met veldflieks, kultuuraktiwiteite en ‘n kruis wat geplant is vir die Liebenberg-moorde.

Op 21 en 24 September het Udolpho gewemel van opgewondenheid met ryk kulturele geleenthede om Erfenisdag te vier. Die feesvieringe het op 21 September afgeskop met ‘n spesiale veldfliekaand met “Spook van Donkergat,” gevolg deur ‘n spookloop of “spooktoer” wat gaste op ‘n koue wandeltog deur die Udolpho-grafte en museum geneem het.

Op 24 September het die Erfenisdagvieringe die gemeenskap by Udolpho bymekaargebring. ‘n Hoogtepunt van die dag was ‘n botter-en-kaasdemonstrasie deur Hannes Coetzee, waar gaste die tradisionele kuns van bottermaak geniet het, gevolg deur die vars botter wat op tuisgebakte brood gesmeer is. “Ek wil spesiaal vir oom Hannes Coetzee bedank wat die botter-en-kaasdemonstrasie gedoen het. Hy was uitstekend!” sê Jan-Danie Malan, Sentraal se kultuurkoördineerder.

“Dit was verskriklik lekker om te leer hoe botter en kaas gemaak word. Ek gaan al my maats daarvan vertel!” het Anais van Huyssteen (9) opgewonde gedeel.

Haar suster, Lisa van Huyssteen (6) het die dag net soveel geniet. “Dit was baie lekker om op die plaas te kuier. Ek sal baie graag terug wil gaan.”

Ter herdenking van die Liebenberg-moorde is ‘n kruis geplant ter nagedagtenis van al die mense wat hul lewens verloor het.

Op dié tragiese dag, 23 Augustus 1836 (184 jaar gelede), was die Voortrekkerlaer van Barend Liebenberg teenaan die Vaalrivier, net buite Parys deur krygers van die Ndebele (Matabeles) van Mzilikazi (Silkaats) aangeval en uitgemoor. Sy geselskap het bestaan uit ses mans, vyf vrouens, 22 kinders en ‘n aantal bediendes. Sowat 600 Matabeles het hul waens omsingel en ses mans, twee vrouens, ses kinders en 12 bediendes vermoor.

Die geleentheid het ook ‘n toer deur die beeldetuin, besoeke aan die ABO-saal en ‘n reis deur Ouma se huis behels, wat geskiedenis en kuns in ‘n betekenisvolle ervaring vir die gaste gebied het.

“Daar was ou rolprente, spookwandelings en heerlike vars botter op tuisgebakte brood. Dit is nou hoe jy Erfenisdag vier,” het Malan gesê oor die sukses van die naweek.

Die geleenthede het verskeie gaste uit die omliggende area gelok, wat ‘n perfekte mengsel van erfenis, geskiedenis en gemeenskapsgees bied.