Honderde jong akteurs en tegnici het die afgelope naweek die kalklig laat skyn op die wonder van die Afrikaanse kunste tydens die finale ronde van die FAK Allegretto Toneelfees, in die Voortrekkermonument (VTM).

Dié besonderse toneelfees is vanjaar weer met trots aangebied deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en het die beste teatervertonings van hoërskole regoor Suid-Afrika uitgelig, met leerlinge wat meegeding het om die gesogte FAK-wisseltrofee te wen.

Die fees het Vrydag afgeskop met die Gala-aand, waar die topsesskole hul topseweproduksies ten toon gestel het. Skole wat aan die Gala-aand deelgeneem het, sluit in:

– Hoërskool Hugenote (Springs) met hul produksies Rumspringa en Wat wolke weeg

– Helpmekaar Kollege (Johannesburg) met hul produksie Sterrejag

– C&N Sekondêre Meisieskool Oranje (Bloemfontein) met hul produksie DOP

– Hoërskool Zwartkop (Centurion) met hul produksie Teddie et al

– Hoër Volkskool Potchefstroom (Potchefstroom) met hul produksie Boks

– Hoërskool Eldoraigne (Centurion) met hul produksie Kou my vingers tot die been

Die kompetisie het Saterdag ’n toppunt bereik met die prysuitdelingsfunksie, waar die wenners aangekondig is. Die hoogtepunt van die aand was Hoërskool Hugenote van Springs, wat die FAK-wisseltrofee huis toe geneem het vir hul uitstaande produksie, Wat wolke weeg. Die beoordelaars het hul prestasie geprys vir sy kreatiwiteit, tegniese uitnemendheid en boeiende storievertelling.

’n Graad 11-leerder van Hoër Volkskool Potchefstroom, Thylo Nortier, sê: “Ons stap al ‘’n rukkie saam met die FAK en ons het vanaand verskriklik baie geniet. Ons toneel se naam is Boks, wat gaan oor mensehandel. Ons het dit regtig baie geniet!”

“Die FAK doen sulke fantastiese werk om die gemeenskap van tienertoneel op te bou en uit te brei. Die FAK kweek regtig ’n kultuur van hoëgehalte-tienertoneel. Ons het ook vriende gemaak met van die akteurs van die ander skole,” sê Hanno van Zyl, ’n graad 11-leerder ook van Hoër Volkskool Potchefstroom.

Die Allegretto Toneelfees gaan voort om die ryk talent van jong kunstenaars in die land te vier en te bevorder, en bied ’n platform vir hulle om op ’n nasionale verhoog te skitter. Elke jaar groei die fees in statuur en bly dit ’n belangrike gebeurtenis op die kulturele kalender, wat ’n liefde vir Afrikaanse teater en die kunste onder Suid-Afrika se jeug kweek.

Die bekende akteur Phillru van Achterberg, bekend vir produksies soos Groet die grotman, het vanjaar weer op die beoordelaarspaneel gesit en sê hy is ongelooflik opgewonde oor die toekoms van Afrikaanse kunste.

Van Achterberg het tydens die Gala-aand van die toekennings oorhandig en met die onsterfbare woorde van William Shakespeare die jongmense geïnspireer om hul kuns elke dag uit te leef.

“‘All the world is a stage and we are merely actors.’ Vandag vier ons jong talent wat elke dag hul passie en hul liefde vir die kunste uitleef en dit is besonders inspirerend,” sê Van Achterberg.

“Ons is baie gelukkig dat ons elke jaar hierdie projek saam met die FAK kan aanpak. Hierdie jongmense maak ons so ongelooflik trots. Hier op die verhoog gee hulle ’n tuiste vir Afrikaanse kuns om te blom en dit gee mens soveel hoop om te weet hulle is die toekoms van die kunste.”

“Die FAK Allegretto Toneelfees speel ’n groot rol in die kweking van die liefde wat tieners het vir hul moedertaal. Baie van die leerlinge wat hier deelgeneem het vandag, was nog nooit by die Voortrekkermonument nie; so nie net kry hulle die kans om deel te neem aan ’n topgehalte tienertoneelproduksie nie, hulle kry ook blootstelling aan die wonders van ons ryk Afrikanergeskiedenis,” meen Danelle Weideman, regisseur van Helpmekaar Kollege.

Barry Müller, hoof van nasionale projekte van die FAK, sê dit is ’n voorreg om hierdie projek te kon aanpak saam met ’n groep jongmense wat lief is vir hul taal en kultuur. “Vanaand is dit weer ’n besonderse voorreg om te kan hande vat om ons taal, kultuur en kuns te kan bevorder en uitbou,” sê Müller.

“Tienertoneel bied aan ons jongmense die geleentheid om hul taal en kultuur te kan uitleef en op die verhoog die besonderse krag van hul taal te ontdek. Dít is inspirerend, dit is werklik hartroerend om te sien hoe die jongmense die vlam van ons taal en kultuur lewend hou, die fakkel oorneem én ons kulturele erfenis uitbou.”

Die FAK wens alle deelnemende skole geluk en spreek sy dank uit aan die organiseerders, beoordelaars en bywoners wat bygedra het om vanjaar se Allegretto Toneelfees ’n merkwaardige sukses te maak.