“Die FAK is reeds vir die afgelope 96 jaar die beskermer van die Afrikaanse kunste en dit is baie spesiaal om ’n nuwe geslag beskermers te ontmoet wat aktief die fakkel van die Afrikaanse kuns, kultuur en erfenis die toekoms in dra.” Só vertel Sallas de Jager, nasionale hoof van kuns en musiek van die FAK, wat onlangs die voorreg gehad het om die Ovie-Vibz Concert For a Cause (C4C) by te woon.
Ovie-Vibz is ’n musiek- en sangskool van wêreldgehalte wat in 2016 deur die gesoute musikant en afrigter Lerina van Rensburg gestig is. Vanjaar se C4C is in samewerking met die FAK aangebied om opkomende musikante ’n platform te gee om nie net hul talent te slyp nie, maar sáám die nuwe hoofstuk van die Afrikaanse kunste te begin skryf.
De Jager het die gehoor tydens die vertoning toegespreek en gesê dit is vir hom ’n riem onder die hart om te sien hoe organisasies soos Ovie-Vibz, net soos die FAK, in die toekoms van die kunste belê.
“As jong kunstenaar het iemand eendag vir my gesê: ‘Talent is die gawe om iets te wíl doen’ en vanaand is ons bevoorreg om te kan werk saam met dié wat wil, wat ’n toekoms wil bou en ons Afrikaanse kunste wil beskerm. Baie dankie vir die waarde wat julle toevoeg,” het De Jager gesê.
Ovie-Vibz se C4C-projek is juis vanjaar aangebied om geld vir die voortbou van die FAK se reeds uitnemende musiek- en kunserfenis in te samel en ’n bydrae tot toekomstige musiekprojekte te maak.
Van Rensburg se pa, Cobie Grobler, wat ook die luisterryke geleentheid bygewoon het, vertel dat die verhaal van Ovie-Vibz eintlik al jare gelede geskryf is. “Vandag is dit egter duideliker as ooit waarom organisasies soos die FAK en Ovie-Vibz bestaan: Om ons jeug te bemagtig om die fakkeldraers van die toekoms te word.”
Luan Claasen, ’n jong tubaspeler wat ook tydens die geleentheid opgetree het, sê hy is dankbaar vir die geleenthede wat hy nie net by Ovie-Vibz kry nie, maar ook as ’n lid van die FAK se Jeugsimfonieorkes.
“Ek speel gereeld by hierdie soort opvoerings, so dit is vir my lekker om meer ervaring as solis te kan opdoen,” sê Claasen.
“Om deel van die FAK-Jeugsimfonieorkes te wees en hulle hier te verteenwoordig, maak dit eintlik nog tien keer beter omdat ek al my repertoire lekker uitgebrei het saam met die orkes. Dis ’n voorreg om te kan wys wat in my steek, voor die mense wat my help ontwikkel het.”
Lieandri Ackermann, die FAK se projekbeampte van kuns en musiekprojekte, is self al sedert sy op skool was by Ovie-Vibz betrokke én tree deesdae in haar vrye tyd as Ovie Vibz-onderwyser op.
Vir Ackermann, wat die waarde van die ontwikkeling van ons land se jong kunstenaars baie goed verstaan, is ’n konsert soos Concert For a cause die versinnebeelding van die FAK se leuse: Tuiste, trots, toekoms.
“By die FAK skep ons ’n tuiste vir Afrikaans; vir die Afrikaanse taal, kultuur, geskiedenis én musiek, en dit is wonderlik dat ons saam met Ovie-Vibz ons huis se deur kan oopmaak vir soveel meer jong talent,” sê Ackermann.
Op 25 April bied die FAK en Ovie-Vibz ’n werksessie by Hoërskool Overkruin aan om deelnemers blootstelling te gee aan simfonieorkeste, watter instrumente deel van hierdie orkeste is en natuurlik hoe om jou vaardighede in jou instrument te slyp. Ackermann moedig oud en jonk aan om dié dag by die kenners kers op te steek.