Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) eis antwoorde ná dit aan die lig gekom het dat byna R63 miljoen, wat geoormerk was om broodnodige opknappings by die Pretoria-stadsaal aan te bring, verkwis is.
Die verval van belangrike historiese bakens is ’n kommerwekkende én toenemende tendens met regeringsamptenare wat klaarblyklik geen ontsag vir vuisvoos verbruikers se belastinggeld óf enige bewustheid vir erfenisbewaring het nie, sê Ziegfried van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK.
“Die Pretoria-stadsaal is een van die belangrikste historiese bakens in die Jakarandastad en deesdae is dié eens indrukwekkende gebou bykans vervalle met slordige tuine, stukkende plaveisel en twee leë fonteine wat vodde is. Dít ten spyte van die feit dat daar in 2015 en 2016 altesaam R62 981 422,14 beskikbaar gestel is om opknappingswerk by dié erfenisbaken te doen.
Luidens ’n verklaring deur Grandi Theunissen, VF Plus-raadslid, moes dié enorme bedrag bestee word aan herstelwerk van die gebou wat uit 1935 dateer, maar die projek is nooit voltooi nie.
Van Huyssteen sê die FAK is stomgeslaan en teleurgesteld dat hardwerkende belastingbetalers se geld roekeloos in rook opgaan. “Die FAK moes in die verlede herhaaldelik ingryp waar plaaslike owerhede hul erfenisbewaringstaak versaak, en nou doen ons dit weer.
“Nie net word hardwerkende mense se geld verkwis nie, maar ons erfenis verkrummel voor ons oë. Die FAK sal dit nié net gelate aanvaar nie,” sê hy.
Die FAK se hoof van nasionale projekte, Barry Müller, het die Stadsaal Vrydag 28 Maart besoek. Müller was deel van die FAK se ingryping ’n jaar gelede om die letters teen die beeld van Andries Pretorius te vervang, nadat dit deur booswigte gesteel is.
Volgens Müller kan regeringsamptenare nie hul plig versuim om verantwoordelikheid vir die erfenisbakens in hul omgewing te aanvaar nie.
“Hier staan ek vandag in die middel van die plein voor die eens statige Stadsaal, briesend om te weet dat meer as R60 miljoen in die niet kan verdwyn sonder dat enigiemand tot verantwoording geroep word.”
Die FAK en VF Plus stel tans ondersoek in na die wanbestuur en -besteding van hierdie geld en eis aanspreeklikheid.
“Gevalle van growwe nalatigheid soos dié is net nóg ’n bewys van hoe belastingbetalersgeld bandeloos bestee word én die destruktiewe uitwerking wat dit op die behoud en bewaring van erfenisbakens het,” sê Müller.
Teken die FAK se petisie hier en help ons om die skuldige partye aan die pen te laat ry.