Mediaverklaring

28 September 2023

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Familie- en Erfenisfees was maar net een van die hoogtepunte tydens die afgelope naweek se Erfenisfeesvieringe by die Voortrekkermonumentterrein. Dit is die vierde maal wat dié genealogiefees deur die FAK aangebied is.

“Dit gaan oor persoonlike erfenis. Hierdie is ’n geleentheid om mense bewus te maak dat hulle elkeen ’n rol het om te speel om hulle eie familie op te teken en met familiebonde hande te vat om seker te maak dat hulle inligting korrek opgeskryf word.”

Só sê Isabel Groesbeek, feesorganiseerder en genealoog by die FAK se Genealogielessenaar. Sy verduidelik hoe belangrik dit is om ook die jeug by genealogie betrokke te kry. Kinders kon na ’n poppekastoneel van Oupa Uil kyk om die konsep van ’n stamboom te begin verstaan.

“Ouers is dit verskuldig aan hulle kinders en kleinkinders om hulle te vertel hoe hulle grootgeword het. Hoe gouer jy die vrae begin vrae, gaan daardie kosbare stories en familie-inligting nie verlore nie.”

Dominee Gideon Lambrecht, een van die uitstallers by die fees, vertel dat genealogie, of familienavorsing, belangrik is, want dit help die individu om hom-/haarself in die groter samelewing te kan plot en dit skep identiteit.

“Dis lekker om te weet wie was jou pa, jou oupa en oupagrootjie. Dit leer jou waar lê jou wortels.”

Gesinne het opgedaag om van hul erfenis te leer, maar jong volwassenes het ook hul familiewortels kom opgrawe, op soek na wie hulle is en waar hulle vandaan kom. Joalet Nel (23) het die fees bygewoon, net om meer oor haar herkoms uit te vind.

“Mens is eintlik altyd nuuskierig oor waar jy vandaan kom. Ek het nie baie inligting oor die Nelle nie, so ek wil graag meer uitvind daaroor. Dis lekker om te kan weet of iemand dalk familie is van jou,” sê Nel.

Waar begin mens dan met jou familienavorsing?

“Jy begin met jou eie inligting net daar in jou eie huis. Het jy dalk ’n trousertifikaat, familiebybel of verjaardagboekie, en dan begin jy by jouself. Dan versamel jy inligting oor jou ouers en werk elk se stamlyne na die stamvader toe. Mens begin by die bekende en gaan terug na die onbekende,” verduidelik Groesbeek.

Die FAK Genealogielessenaar werk deurlopend met die publiek om hul herkoms na te speur. Indien jy nuuskierig is oor jou herkoms, kan jy kontak maak met die FAK Genealogielessenaar.