Mediaverklaring

19 Julie 2024

Erfeniskenner en kurator van een van die topmuseums in die land prys die FAK vir die werk wat hulle doen om gemeenskappe te mobiliseer om erfenis in Suid-Afrika te bewaar en beskerm.

Dr. Johan van Zyl, kurator van die Oorlogsmuseum in Bloemfontein, het die week sy dank uitgespreek aan die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vir die afgelope week se belangrike opknappingswerk wat by die Sannaspos-monument gedoen is.

Die Sannaspos-monument langs die N8, sowat 30 km oos van Bloemfontein, het soos baie ander Vrystaatse erfenisskatte vanjaar deurgeloop onder vandalisme en die onlangse ongure weer het die toestand van dié terrein vererger en die FAK genoop om in te tree.

Jan-Danie Malan, kultuurkoördineerder van die FAK, en ’n span van die FAK kultuurnetwerk het broodnodige instandhouding en verfwerk gedoen én die muur herstel wat deur weerlig beskadig is.

Malan vertel omdat Sannaspos weens verskeie omstandighede ontoeganklik is, het die FAK besluit om in te gryp.

“Sannaspos het die afgelope jaar onder geweldige weersomstandighede deurgeloop. Die Afrikason het die slagveldkaarte verdor en dit is ook gevandaliseer, en weerlig het ’n stuk van die muur weggebreek. Verder het vog van die reënseisoen ernstige skade aan die pleisterwerk gedoen,” vertel Malan.

Die tipografiese kaarte, wat van veselglas gemaak is, word tans deur die Oorlogsmuseum herstel waarna die FAK dit weer by die monument sal oprig.

Pikkewyn Pretorius, ’n vrywilliger van die Bloemfonteinse Kultuurnetwerk, sê dit is vir haar belangrik dat die gemeenskap betrokke raak by erfenisbewaring.

“As ons dit nie doen nie, wie gaan?” stel sy die vraag.

Pretorius meen dat gemeenskappe verantwoordelikheid moet vat vir hul kulturele erfenis en moedig mense aan om betrokke te raak by groepe soos die FAK-kultuurnetwerke.

Dr. Van Zyl is dit met Pretorius eens dat die inkoop van die gemeenskap van kardinale belang is wanneer dit kom by die bewaring en uitbou van erfenis.

“Ons is baie gelukkig by die Oorlogsmuseum om een van die topmuseums in die land te hê, maar die hartseer waarheid is dat dit nie oral die geval is nie,” sê hy.

Die Vrystaatse erfenis ervaar, volgens Van Zyl, geweldige uitdagings, tog vertel hy daar is steeds hoop.

“Dit is moeilik om te sien hoe erfenis agteruitgaan, maar een positiewe ding daarvan is om te sien hoe gemeenskappe en organisasies soos die FAK meer betrokke begin raak en self eienaarskap neem van hul erfenis.”

Van Zyl sê hy is ongelooflik dankbaar dat die terrein opgeknap word.

Na die oorname van Bloemfontein deur die Britte tydens die Anglo-Boereoorlog (15 Maart 1900) het die boere onder leiding van generaal Christiaan de Wet besluit om Sannaspos aan te val en watervoorraad na Bloemfontein af te sny. Daar het heelwat Britte in die slag gesneuwel en ’n magdom waens met kos en ammunisie is gebuit. Dit was een van De Wet se meer strategiese oorwinnings en die oorname van die waterwerke het die Britte in Bloemfontein se lewens baie moeilik gemaak.

Malan sê hy glo die flinkheid waarmee die FAK hul projek aangepak en afgehandel het, sou Generaal De Wet definitief tevrede stel.

“Daar is baie helde in ons verlede van wie ons meer kan leer,” vertel Malan.

“Soos generaal De Wet sy volk gedien het deur sy hele lewe en dit vir ons ’n voorbeeld was, dien die FAK ook ons gemeenskappe met die hulp van ons kultuurnetwerke en ons hoop dit sal ander inspireer om ook betrokke te raak.”

Malan wil graag vir Henry en Pikkewyn Pretorius bedank vir hul hulp en ondersteuning met dié projek en dr. Van Zyl vir sy bydrae met kennis oor die terrein.

Die toekoms van Vrystaat se erfenis is in jou hande! Klik hier: https://bit.ly/4bSBMjb