Die Federasie van Afrikaanse kultuurvereniginge (FAK) werk al vir jare saam met die Krugergenootskap om die nalatenskap van een van die grootste geeste in die Afrikanergeskiedenis te bewaar.

Vanjaar se Krugerdagvieringe by Paul Kruger se graf by die bekende Heldeakker-begraafplaas in Pretoria, was die grootse viering wat al in jare gehou is met 30 organisasies wat kranse gelê het.

Stephanus Johannes Paulus Kruger is op 10 Oktober 1825 op die plaas Bulhoek naby Steynsburg, tans die Oos-Kaap, gebore en vandag word hy gesien as een van die bekendste presidente in die Afrikanergeskiedenis.

Hannes Noëth, voorsitter van die Krugergenootskap, was verbly met die hoeveelheid organisasies wat vandag betrokke was.

“Dit is wonderlik dat hier net elke jaar meer en meer organisasies, gesinne, kerke en dies meer kom om hulde te bring aan Paul Kruger. Dit is vir my ‘n riem onder die hart om te sien hoeveel organisasies gehelp het om die dag so sterk te maak. Dit was ook vir my baie lekker om te sien hoe baie jeug hier vandag was,” sê Noëth.

Deur die jare het die FAK al talle Kruger-projekte aangepak; óf dit nou was om ’n gevandaliseerde borsbeeld van Paul Kruger met ’n replika te vervang óf die opening van die Kruger-sterfkamer – die FAK het ’n geskiedkundige en kulturele plig teenoor Paul Kruger se nalatenskap.

Nadat sy graf in Julie 2018 gevandaliseer is, het ’n vriend van die FAK en beeldhouer, Jacques Müller, van Centurion, aangebied om nie net die beskadigde borsbeeld bo-op die graf van oudpres. Paul Kruger te restoureer nie, maar ’n hele nuwe beeld vanuit graniet en marmer te kap. Die nuwe Kruger-beeld is in 2018 op oom Paul se 193ste verjaarsdag onthul.

Die inhoud van oudpresident Paul Kruger se sterfkamer, uit Clarens in Switserland, het 120 jaar later sy tuiste gevind by ons kultuurtuiste by die Voortrekkermonument. Dié inisiatief is deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) van stapel gestuur om die gesogde artefakte na Kruger se geboorteland terug te bring.

Die dag het begin met ’n hartlike verwelkoming deur Louis Engelbrecht, gevolg deur ’n skriflesing, gebed en liedere gelei deur ds. Arie Stavast. Hannes Noëth, voorsitter van die Krugergenootskap, en verskeie organisasies soos die Gereformeerde Kerke Suid-Afrika (GKSA), die Boere Afrikaner Volksraad en die Wonderboom Geloftefees komitee het onder andere ’n krans gelê ter ere van Kruger se onskatbare bydraes.

Die middag se verrigtinge is voortgesit met ’n erediens gelei deur Alwyn Swanepoel, waarna Noëth ’n feesrede tydens die organisasie se algemene jaarvergadering gelewer het.

“Ons mense het nog nie hul eie verlede uit die oog verloor nie, en deur die Kruger-standbeeld wat op sy regmatige plek opgerig is, getuig dit dat die beginsels en ideale van Paul Kruger steeds in die harte van die dankbare nageslag leef,” sê Noëth.

Charles Rademeyer, FAK-kultuurkoördineerder, het sy dank uitgespreek teenoor al die organisasies wat betrokke was.

“Ek het groot dankbaarheid teenoor die Krugergenootskap vir die reëlings vir ’n belangrike dag soos hierdie. Dit inspireer my regtig vir ’n beter môre om te weet dat daar soveel organisasies is wie se hande nie verkeerd staan om Oom Paul Kruger te herdenk en seker te maak dat sy nalatenskap verlore gaan nie,” sê Rademeyer.

Norman Halder, voorsitter van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) was geëerd om die geleentheid te kon bywoon.

“Vir die GHA is ons taal, erfenis en kultuur van kardinale belang. Om te sien dat ons volkshelde hier op Heldedag nie vergete is nie, en dat ons bymekaar kan kom op ‘n weeksdag in werksure, is werklik ‘n riem onder die hart. Elke jaar wat hierdie funksie groei inspireer dit ons almal, veral in terme van die jeug vir wie ons die voorbeeld moet stel,” sê Halder.

Die FAK bedank alle bywoners vir hul deelname en ondersteuning om die nagedagtenis en nalatenskap van Kruger te vier en sodoende lewend te hou.