Die bekende Voortrekkerkinderbeeld wat reeds vir jare op die terrein van Hoërskool Voortrekker in Boksburg aan die Oos-Rand staan, is in die veilige hande van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) ná dit onlangs deur ’n boom beskadig is.

Die beeld, geskep deur die beeldhouer Phil Potgieter, is ’n belangrike deel van die skool se geskiedenis, waar dit sedert 1973 oor Hoërskool Voortrekker se leerlinge waghou. Dié beeld is op Republiekdag in 1973 deur die destydse speaker HJ Klopper op die skoolterrein onthul.

Johan Pansegrouw van die FAK se Oos-Rand kultuurnetwerk het die inisiatief geneem en begin om ondersoek in te stel oor die toestand van erfenisbakens in hul omgewing, soos die Voortrekkerkinderbeeld. Hy het toe die skool genader en met onderhandelings begin om om seker te maak dat die erfenisskatte by die skool deur die FAK in bewaring geneem kan word. Intussen is die Voortrekkerkinderbeeld beskadig en Pansegrouw het weer die voortou geneem om die FAK se hulp aan te bied.

Hoërskool Voortrekker bestaan reeds sedert 1920 en was die eerste Afrikaansmedium-hoërskool aan die Rand.
“Die skool is ’n kosbare deel van die geskiedenis en ontwikkeling van die dorp en sy mense, en daarom was dit vir die FAK belangrik om die skool te nader om die beeld tot sy eerstydse glorie te herstel,” sê Pansegrouw.

Pansegrouw het die skool op 15 Mei saam met Barry Müller, die FAK se nasionale hoof van gemeenskap-, geskiedenis- en ad hoc projekte, en Charles Rademeyer, kultuurkoördineerder van die FAK in die noordelike provinsies, besoek om die herstelproses aan die gang te sit.

Net soos Pansegrouw glo Müller dat die beeld nie net ’n belangrike deel van die geskiedenis van Boksburg is nie, maar ’n baken van hoop wat vir toekomstige geslagte bewaar moet word.

“Dit is vir die FAK ’n ongelooflike riem onder die hart wanneer gemeenskappe eienaarskap van hul erfenis neem en daarom is ek dankbaar dat Hoërskool Voortrekker die herstel van hierdie ongelooflike erfenisskat aan die FAK toevertrou het,” sê Müller.

Stephen Delport, ook ’n lid van die Boksburg-kultuurnetwerk, het op 22 Mei die beeld by die skool gaan haal en na die Voortrekkermonument in Pretoria gebring waar die FAK eersdaags met herstelwerk gaan begin.

Die bekende beeldhouer en vriend van die FAK, Jaco van Niekerk, is deur die FAK getaak om die beeld te restoureer.
Van Niekerk werk reeds vir jare lank saam met die FAK en leef sy liefde en passie vir die Afrikaner se ryk kulturele erfenis uit deur projekte soos dié saam met die organisasie aan te pak. Van Niekerk en die FAK het ook in 2024 die reusetaak onderneem om die Carolina Burgermonument te herstel, waar die beeld vandag weer met trots voor die NG Kerk op dié dorp staan.

Ziegfried van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK, sê projekte soos hierdie bewys opnuut waarom dit belangrik is vir gemeenskappe om meer betrokke te raak by die FAK.

“Die FAK bewaar nie net ons erfenis nie, maar lê elke dag die boustene vir die toekoms. Projekte soos hierdie is inspirerend, want dit herinner ons aan die kán-kultuur waarmee die Afrikaner nog altyd ’n toekoms bou,” sê hy.