Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) Jeug het die afgelope naweek die hoogs verwagte Plaasjapie-Sokkie by die Voortrekkermonument se Voortrekkersaal aangebied en jongmense van regoor die streek gelok vir ’n aand van pret, lag en dans.

Die geleentheid was ’n groot sukses, met ’n verskeidenheid aktiwiteite wat almal deur die aand vermaak het. Die jong mense het heel aand lekker gekuier, foto’s geneem by die fotohoekie en tafeltennis geniet. Daar was ook ’n paar danskompetisies, waarna ’n hele paar gelukkige mense weggestap het met kaartjies om die Voortrekkermonument sowel as die Museumteater gratis te besoek.

Terwyl sommige gaste om gesellige vure gekuier en gesels het, het ander hulself gate uit geniet op die dansvloer en gedans op ’n mengsel van klassieke sokkie-liedjies en moderne treffers. Die snitlys het tydlose gunstelinge soos “Kaalvoet Sokkie” deur Kurt Darren ingesluit, saam met nuwer snitte soos “Lag” deur ONS, wat verseker het dat daar iets was vir almal om te geniet.

Charles Rademeyer, kultuurkoördineerder van die FAK en voorsitter van FAK Jeug, het sy dank uitgespreek teenoor almal wat dit bygewoon het en die aand onvergeetlik gemaak het. “Dankie aan elke persoon wat vanaand saam met ons kom kuier het. Ek wil ook elke jongmens onder 30 aanmoedig om by die FAK Jeug aan te sluit! Julle wil nie enige toekomstige geleenthede soos hierdie misloop nie.”

Vir meer inligting oor die FAK Jeug en opkomende geleenthede, besoek gerus die FAK Jeug sosialemediablaaie.