Die FAK Jeugsimfonieorkes en die Duitse Landes Jugend Akkordeon Orkes Nordrhein-Westfalen (Duitse Jeugtrekkklavierorkes/LJAO) het kragte saamgesnoer vir ‘n onvergeetlike Galakonsert by die Senotaafsaal, Voortrekkermonument.
Onder leiding van Jaco van Staden het die FAK Jeugsimfonieorkes twee van sy talentvolle soliste ten toon gestel, Danelle Rautenbach, wat die eerste beweging van Edward Elgar se Tjellokonsert uitgevoer het en Ellie Pereira, wat die tweede beweging van Sjostakowitsj se Klavierkonsert nr. 2 uitgevoer het. Die aand is afgesluit met beide orkeste wat saam ‘n onvergeetlike stuk opgevoer het.
Die LJAO, onder leiding van Silke D’Inka, was in Suid-Afrika as deel van hul orkestoer. Die LJAO-lede het ook ‘n begeleide toer deur die monument geniet en die historiese betekenis daarvan verken voordat hulle saam met hul Suid-Afrikaanse eweknieë geoefen het.
Van Staden kon nie meer trots wees op die uitvoering nie.
“Dit is slegs die tweede herdenking van die FAK Jeug Simfonieorkes, en ek is baie trots op die groot hoogtes wat hierdie orkes vanjaar bereik het. Die orkes het beslis gegroei in kapasiteit en standaard en gaan van krag tot krag. ”
“Die entoesiasme was aansteeklik,” meen van Staden
“Daar was geweldige positiewe energie onder die lede. Almal wat in hierdie orkes speel, streef daarna om mooi en behoorlike musiek te maak. Hierdie Gala-konsert was om dankie te sê vir elke orkeslid se harde werk hierdie jaar. Dit was ook baie aangenaam om die LJAO te verwelkom en saam met hulle te kon optree. Dit was ‘n voorreg om hierdie tipe interkulturele projek te kon doen en ook baie interessant om ‘n trekklavierorkes te ervaar, iets wat min gesien word.”
Silke D’Inka, dirigent van die LJAO orkes se dat hulle die konsert vreeslik geniet het.
“Ons was mal daaroor om hier te wees. Almal was so gaaf, en dit was ‘n fantastiese aand. Ons was verstom deur die groot gebou, en dit was vir ons ‘n groot eer om hier te kon optree. Ons het ook ‘n paar vriende gemaak in die kort tyd wat ons hier was wat ons altyd sal koester!”
“Die aand was regtig ongelooflik gewees,” meen Louricus Taljaard, een van die gaste wat die aand bygewoon het. Dit is regtig indrukwekkend hoeveel talent in die orkeste is. Mens kan sien hulle het ‘n diep passie vir musiek en vir kuns. Hierdie is die heel eerste keer wat ek ‘n optrede deur die Jeugsimfonieorkes bywoon en ek moet sê, dit is regtig waar dit begin – by die jeug
Met ‘n belowende jaar wat voorlê, sien die orkes uit na verdere samewerking en om voort te gaan om saam pragtige musiek te maak.
Van Staden moedig enige jong persoon aan wat ‘n instrument speel om te kom vir oudisies.
“Die FAK Jeug Simfonieorkes hou binnekort weer oudisies vir 2025, ‘n opwindende jaar wat voorlê, so hou hierdie spasie dop!”