Die FAK-Jeugsimfonieorkes het Saterdag 29 Maart 2025 as genooide gaste by die afskopkonsert van die CCNF se Prestige-konsertreeks by Cornwall Hill College in Irene, Pretoria, opgetree.
Onder leiding van dirigent Jaco van Staden het die orkes oudergewoonte uitgestaan onder die vier orkeste wat aan dié konsert deelgeneem het.
Volgens Annalou Herman, wat al vir die derde agtereenvolgende jaar deel is van dié orkes, was almal bietjie senuweeagtig voor hulle op die verhoog gestap het. “Dit was meer adrenalien, want ’n mens wil graag jou bes doen – vir jouself en die medespelers in die orkes. Ons is soos een groot familie.”
Die konsertreeks bestaan uit sewe orkes-en-koorfeeste wat reg oor Suid-Afrika gaan
plaasvind.
Christelle Engelbreght, een van die organiseerders van die konsertreeks, het tydens Saterdagaand se konsert die visie van die reeks soos volg beskryf: “Die doel van die konsertreeks is om aan jeug- en amateurorkeste die geleentheid te bied om blootstelling en verhoogtyd te kry en deel te wees van hoogstaande aanbiedings voor waarderende gehore wat lief is vir klassieke musiek.”
Ziegfried van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK, sê geleenthede soos die CCNF se Prestige-konsertreeks is van onskatbare waarde omdat dit nie net aan jong musikante ’n geleentheid bied om hul talente te ontwikkel saam met verskeie musikante en voor uiteenlopende gehore nie, maar bowenal omdat dit die boustene lê vir die toekoms van kunste in Afrikaans.
“Musiek was nog altyd deel van die FAK se historiese DNS, en die FAK is ongelooflik trots op hierdie jong Afrikaners se talent en harde werk,“ sê Van Huyssteen.
Op 25 April bied die FAK en Ovie-Vibz ’n werksessie by Hoërskool Overkruin aan om deelnemers blootstelling te gee aan simfonieorkeste, watter instrumente deel van hierdie orkeste is en natuurlik hoe om jou vaardighede in jou instrument te slyp.
Vir meer inligting kontak [email protected]