Inwoners van Swellendam het die week bande gesmee met die oudste Afrikaanse kultuurorganisasie in Suid-Afrika om die ryk erfenis van dié dorp te bewaar en te beskerm vir alle toekomende geslagte.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Suidelike streek het gister die 11de kultuurnetwerk in Swellendam in die Wes-Kaap gestig. Die FAK se kultuurnetwerke kyk spesifiek na kultuurbewaring om ons ryk herkoms te beskerm en te bewaar.

In 1743 is Swellendam verklaar as ’n landdrosdistrik, die derde oudste in Suid-Afrika. ’n Nedersetting is toe ontwikkel en ’n dorp ontstaan op die verste buitepos op die roete na die binneland. Hierdie dorp se naam is saamgestel uit die vanne van die eerste en enigste Kaapse goewerneur wat in die Kaap gebore is, Hendrik Swellengrebel en sy vrou Helena ten Damme.

Ry jy vandag af in die hoofstraat van Swellendam begroet ’n lang ry van verskillende familiewapens teen die lamppale jou, almal families in Swellendam.

Swellendam het ’n lang pad gekom sedert 1743. Mense het gekom en gegaan en baie het daar gebeur. Daar is baie historiese geboue en gedenkwaardighede in hierdie pragtige dorp wat vandag bewaar en in stand gehou word en mens herinner aan ’n tyd, lank gelede.

Die FAK se Kaapkantoor het Maandagaand 22 Julie by die Drostdy-museum met lede van Swellendam se kultuur- en erfenisgemeenskap saamgekom om oor Swellendam te gesels.

Volgens Elizma Smith, kultuurkoördineerder in die Suidelike streek, is die byeenkoms bygewoon deur verteenwoordigers van Hoërskool Swellendam, musiekvereniging, ATKV, MER-huis, Swellendam Erfenisvereniging, Vriende van die museum, Die Voortrekkers, biblioteek, Drostdy-museum en die Langeberg Bulletin.

“Ons het saam gesels oor die dorp se mense, die invloed en bydraes van die pioniers van gister en bekende Swellendammers vandag, wat die dorp se stories ken. Ons het gepraat oor die geboue, die leivore, die ou meul, die familiewapens in Voortrekstraat, Twaalfuurkop, die piekniekbos, die tweede oudste biblioteek in die land hier op Swellendam, die mooi hek by die sportgronde, die Witkerk se orrelpype, die Swellengrebel-hotel, Lang Elsie, die groot brand in die 1800’s en huidige projekte, vooruitsigte en publikasies oor Swellendam,” sê Smith.

“Dit was ’n goeie aand,” meen Smith.

“Op Swellendam is daar mense wat omgee vir hulle dorp se ryk erfenis en moue oprol om ’n bydrae te lewer om dit in stand te hou, elkeen op sy eie manier. Die aand is afgesluit met ’n heerlike saamkuier en die stigting van ’n FAK-kultuurnetwerk in die Drostdy-museum op Swellendam,” sê Smith.