“Dit is kunstenaars se verantwoordelikheid om kultuur te laat voortleef!”
Só vertel die kunstenaar Kobus Möller toe hy ’n groep kunstenaars én aspirantkunstenaars by die Voortrekkermonument in Pretoria verwelkom het. Hulle het sy meesterklas oor die skep van tekstuur en die maak van jou eie kunsdoek op Saterdag 3 Mei bygewoon.
Möller se indrukwekkende natuurskilderye pryk in die FAK-VTM-Kunsgalery saam met die werk van verskeie ander bekende kunstenaars en daarom het die FAK besluit om vanjaar by hom kers op te steek om sy kennis en vaardighede met kunsliefhebbers te deel en, soos hy dit self beskryf, “die vervlakking van kulturele uitlewing deur middel van kuns teen te werk.”
Sallas de Jager, hoof: kuns- taal- en musiekprojekte van die FAK, sê dié organisasie besef hoe belangrik dit is om ons land se ryk kulturele erfenis te laat voortleef én op alle vlakke, hetsy dit taal, kultuur, geskiedenis of kuns is, uit te bou. Daarom is projekte soos hierdie vir die FAK van onskatbare waarde.
Die FAK bied gereeld verskeie werksessies en meesterklasse aan om oud en jonk te bemagtig om eienaarskap van hul erfenis te neem, soos nou ook met hierdie meesterklas saam met Möller.
“Dit was weereens vir die FAK ’n absolute voorreg om Kobus Möller hier op die Monumentterrein te kon ontvang om saam met ons ’n meesterklas aan te bied,” sê De Jager.
“Dit was besonders om te kon beleef hoe vrygewig Kobus met sy kennis is. Dit laat mens nederig voel as iemand van sy kaliber met soveel deernis lesse, wat hy op die harde manier moes leer, sonder voorbehoud met sy medekunstenaars deel.
“’n Mens kan met reg voel dat jy werklik iets besonders misgeloop het as jy nie hier kon wees nie. Ek moedig kunstenaars en kunsliefhebbers aan om seker te maak dat hulle die geleentheid aangryp om sy werksessies in die toekoms by te woon.”
Möller is nie net bekend vir die besonderse tegniek waarmee hy, met kwas en verf, stories kan vertel nie, maar ook die wyse waarop hy sy geloof in God in sy kuns uitleef. Elk van sy kunswerke getuig van God se almag en dit is juis dié passie en geloof wat na vore gekom het toe Möller Saterdag sy werksessie aangebied het.
“Dit lyk vir my of daar ’n algemene vervlakking van kulturele uitlewing is wat byna universeel is. As ons kyk na ons eie land, het kunsgalerye seker met 90% verminder oor die laaste 15 jaar en bittermin oorspronklike kuns word nog in huise en kantore gesien. Daarom is dit vir my belangrik om saam met die FAK te kan werk om mense, veral kunstenaars, weer te inspireer om eienaarskap van hul kultuur te neem,” sê Möller.
“Almal het ’n talent by God gekry en dit is ons verantwoordelikheid om hierdie talente tot die beste van ons vermoëns te ontwikkel en uit te leef tot Sy eer.”
Hy voeg by en sê dat “dit ons as kunstenaars se verantwoordelikheid is om hierdie vervlakking teen te werk. Hoe word dit gedoen? Deur die aanbied van meesterklasse soos hierdie. Dit het voorwaar ’n groot impak en ek het groot waardering vir die rol wat die FAK en die Voortrekkermonument in hierdie verband speel.”
Möller se kuns is bekend vir die lewe wat deur middel van kleur, kontoer en tekstuur deur die skilderdoek breek. Hy het dan ook van hierdie geleentheid gebruik gemaak om die kunstenaars meer touwys te maak met die skep van tekstuur, selfs nog voor daar enige kleur op ’n skilderdoek beland.
Marize Möller, bestuurder van die FAK-VTM Kunsgalery, sê dit was ’n belewenis om te sien hoe kunstenaars, jonk en oud, hul notaboekies nadergetrek het, foto’s en video’s geneem het en aandagtig elke klein wysheid ingeneem het wat Möller gedeel het.
“Dit is nie aldag wat mens die geleentheid kry om by ’n ware meester te leer nie. Dit was selfs vir gesoute kunstenaars ’n waardevolle ervaring om te sien hoe Möller ’n handgemaakte skilderdoek lewe gee met alles van verf tot gom, en lewe en lig op ’n doek te skep, lank voor die prentjie ontwikkel word,” sê sy.
Sy vertel verder: “Elke besoeker het dit ongelooflik geniet en mens kon sien dat die lesse wat hulle by Möller geleer het werklik ’n verskil gemaak het toe hulle in die praktyk die geleentheid gehad het om onder sy wakende oog hierdie vaardighede op die proef te kon stel.”
Marize Möller moedig elke kunstenaar aan om kontak te maak met die FAK en die volgende werksessies en meesterklasse by te woon. “Dit is beslis iets wat mens nie moet misloop nie.”
Hou gerus ons sosiale media dop vir lekker video’s en stories oor dié dag en volg gerus die FAK-VTM-Kunsgalery se Facebook-blad vir toekomstige projekte of kontak [email protected] as jy nie die volgende meesterklas wil misloop nie.