Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge  (FAK) se eie Olimpiese Spele, ons Taallimpiese Spele, het vandag amptelik afgeskop.

 

Die Taallimpiese Spele is ’n unieke en boeiende viering van taal. Met die gees van die Olimpiese Spele in Frankryk wat ook vandag amptelik begin het, het hierdie geleentheid ‘n verskeidenheid taalgebaseerde speletjies bevat wat ontwerp is om deelnemers van alle ouderdomme te vermaak en uit te daag.

 

Die hoogtepunt van vandag se feestelikhede was die speletjie “Taalmaal”, waar deelnemers ‘n mengsel van vokale en konsonante ontvang het en een minuut gehad het om die langste woord moontlik te skep.

 

Die opgewondenheid was tasbaar aangesien individue en spanne, van jonk en oud, met entoesiasme meegeding het. Spelers het aan die uitdaging deelgeneem op hulle skootrekenaars, selfone, tablette asook papier en pen.

 

Eshmarelda Springbok, kliëntediensbeampte van die Voortrekkermonument, het haar gate uit geniet.

“Dit is verskriklik lekker, ek het dit gate uit geniet. Dit was bietjie moeilik – onmiddelik met die eerste vraag het ek ‘n skoon bladsy gehad, maar ek het dit steeds baie geniet,” sê Springbok.

 

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, is baie trots op die Taallimpiese Spele.

“Hierdie speletjies is nie net speletjies wat in die viering van Afrikaans 100 gespeel word nie, dit is speletjies wat ons in die toekoms nog vir baie jare gaan aanbied. Afrikaans is ‘n taal wat haar taalspiere op elke terein bult, en daarmee saam kan elkeen wys watter sterk Afrikaanse spiere in hulle is,” sê Langner.

 

Die Taallimpiese Spele sal van vandag, 26 Julie, tot 11 Augustus daagliks aanlyn gespeel kan word, en bied almal die kans om hul taalvaardighede te toets en die pret vanuit die gemak van hul huise te geniet.

 

“Ek het vandag se Taallimpiese Spele baie geniet. Hierdie speletjies laat mens bietjie dink en kopkrap omdat dit nie iets is wat mens elke dag doen nie,” sê Reagan Smith, een van die Voortrekkermonument se Museumteater- akteurs.

 

Deelnemers kan ook uitsien na ‘n dag van pret wanneer die Taallimpiese Spele in persoon bygewoon kan word, op 3 Augustus, waar deelnemers by die feestelikheid kan aansluit.

 

Nasionale hoof van projekte, Barry Müller, meen dat die Taallimpiese Spele baie spesiaal is vir die FAK. “Die Taallimpiese Spele is vir ons baie spesiaal aangesien dit die heel eerste Afrikaans 100-projek is wat ons geloods het hierdie jaar. Ons het ook internasionale traksie gekry. Daar is mense vanuit Amsterdam wat deelneem aan hierdie aanlyn speletjies. Deur hierdie speletjies kan ons sien dat mense regtig ‘n liefde het vir ons taal, en dit is vir my baie mooi.”

Persone wat wil deelneem kan na die FAK se webtuiste gaan, klik op projekte en dan op Afrikaans Amptelik 100 en bult jou taalspiere.

Alternatiewelik volg die volgende skakel: https://projekte.co.za/afrikaans-amptelik-100/