Een van die mees betekenisvolle datums op die Afrikanerkalender is 31 Mei. Dit is nie net die dag waarop Suid-Afrika eers die Unie en later die Republiek van Suid-Afrika geword het nie, maar ook die datum waarop die Anglo-Boereoorlog in 1902 met die ondertekening van die Vrede van Vereeniging beëindig is.
As deel van die herdenking van dié besonderse dag, het die FAK se kultuurnetwerk in die Noord-Kaap ’n omvattende program by die Doornbult-konsentrasiekampterrein in samewerking met die Orania Bewaringstigting aangebied. Daar is met eerbied teruggedink aan die lyding en opoffering van die duisende vroue en kinders in die konsentrasiekampe.
Volgens Cara Tomlinson, die FAK se kultuurorganiseerder in die Noord-Kaap, was dit ’n unieke belewenis. “Om die geskiedenis te ervaar deur op dieselfde terrein te staan waar jou voorouers meer as ’n eeu gelede in een van die konsentrasiekampe was, raak ’n mens op ’n heel ander manier as om dit bloot in boeke te lees,” sê sy.
Ds. Jaco Putter het die dag se verrigtinge geopen, waarna ’n geskiedenisryke program gevolg het. Dr. Koos le Roux, ’n geskiedenisliefhebber en kenner van veral die Koffiefontein-omgewing, het vertel van genl. Bezuidenhout en sy besondere benadering tot die oorlogvoering. Hy het beklemtoon dat Bezuidenhout na sy mening die beste generaal van die oorlog was, juis vanweë sy doeltreffende hantering van sy mense en hulpbronne.
Die besoek aan die Doornbult-konsentrasiekampterrein is ’n besondere ervaring. Die terrein word met groot sorg deur die Wiid-familie onderhou en is ’n stil getuie van die gebeure in 1901. Rina Wiid het dié geskiedenis deeglik in verskeie navorsingsboeke gedokumenteer.
“Haar werk getuig van etlike jare se toewyding en deursettingsvermoë om hierdie geskiedenis met deeglike navorsing bymekaar te bring,” sê Tomlinson.
Die dag is met ’n kranslegging deur verskeie instansies by die konsentrasiekampmonument afgesluit. Deelnemers het ook die geleentheid gehad om die terrein verder te verken en die museum te besoek.
“Deelnemers aan die dag kon met deernis terugdink aan die swaarkry wat ons voorouers moes deurmaak, maar ook die lesse wat ons daaruit kan leer. Die verhale van Doornbult herinner ons aan volksgenote wat met deursettingsvermoë volgehou het – tot die bitter einde,” sê Tomlinson.



