Veertig jaar gelede, op 5 Maart 1985, is die vader van die geliefde Trompie- en Saartjie-boekreekse, Matthys Gerhardus Smith, in die ouderdom van 70 jaar oorlede. Die FAK vier in die gees van Afrikaans se 100ste bestaansjaar vanjaar opnuut dié meesterstorieverteller se ryk storienalatenskap.

Volgens Dawid Brand, hoof: beeld en groei van die FAK, het Smith ’n ongelooflike talent gehad om ’n liefde vir lees by kinders raak te skryf. “Sy skryfwerk het tot vandag toe nog ’n tydlose staanplek op menige boekrak – van skoolbiblioteke tot pa’s soos ek (wat heelhartig op Trompie se streke ingekoop het!) se studeerkamerrak!

“Elke boek was propvol leesplesier en ’n mens kon nie wag om jou in jou boekhelde se volgende avontuur in te leef nie. Groot was die frustrasie as jy jou boek by die biblioteek ingegee en die volgende een nog nie terug op die rak was nie. Dan moes die bibliotekaresse maar jou naam en die boek wat jy wil lees op ’n waglys sit,” vertel Brand.
Smith was beter bekend onder die skrywersname Topsy Smith en Bettie Naudé. As Topsy Smith het Trompie lewe gekry, terwyl Bettie Naude die Saartjie-reeks in jong lesers se harte gevestig het.

Van kettie in die sak tot krake in die klippad

Trompie Toerien en sy Boksembende het in Kwaggaberg gewoon en smiddae ná skool in die ou fort buite die dorp vergader. Trompie en sy drie maters – Blikkies, Dawie, Rooie en Boesman die brak – het menige avonture saam meegemaak. Tussen 1950 en 1970 verskyn 31 Trompie-boeke.

Saartjie Bauman was 13 jaar oud en het in Lynnekom, ’n voorstad in Johannesburg, gewoon. Haar “kliek” was Anna en Lina, maar klein “Muggie” het ook soms ongenooid agterna gedrentel. Saartjie se klein boetie, Apie, was ook alewig lastig. Saartjie en haar mense het hul buiging in 24 Saartjie-boeke tussen 1953 en 1958 gemaak.

Lesers het begin wonder of Saartjie en Trompie mekaar nie sou ontmoet nie. Só was dit juis in 1970 met die boek Eerste ontmoeting. In dieselfde jaar volg ’n tweede boek, Die geheim van die honde. Daarna skei Trompie en Saartjie se paaie en daar volg ook geen verdere boeke in die afsonderlike reekse nie.

Dit was egter nie die einde van Trompie en Saartjie nie. In 1970 neem Trompie en die Boksombende die voortou toe die fliek Trompie verskyn. In 1980 volg die Trompie-televisiereeks met die bekende temaliedjie deur Anton Goosen. In 1989 word ook Saartjie se stories ’n televisiereeks met die aktrise Annie Malan in die hoofrol.

Die boeke word verskeie keer herdruk en selfs later jare in omnibusse uitgegee.

Wie was MG Smith?

Marthinus Gerhardus Smith is op 12 Julie 1914 in Parys in die Vrystaat gebore. Sy jeugjare het hy in ’n Engelse huis in Pretoria deurgebring. Ná die afsterwe van albei sy ouers toe hy net 15 jaar oud was, verhuis hy na Koppies in die Vrystaat waar hy matrikuleer en vir die skool se eerste span én vir die dorpspan rugby speel.

In Stellenbosch behaal hy ’n BA-graad met Engels en Afrikaans-Nederlands as hoofvakke. Hier speel hy vir Maties se eerste rugbyspan, was kaptein van die universiteit se boksspan en lid van die atletiekspan. Nadat hy ’n diploma in liggaamsopvoeding verwerf het, word hy aangestel as organiseerder vir liggaamsopvoeding by skole en werk ook as vryskutsportjoernalis vir onder andere die Die Vaderland en Die Sondagpers.

Sy eerste kortverhaal verskyn in 1937 in Die Huisgenoot en op 25 Mei 1943 verskyn ’n verhaal Trompie se das (voorloper tot ’n latere reeks) in die tydskrif Naweek.

Hy bekwaam homself verder vir die onderwys en begin in 1944 onderwys gee. Hy tree uiteindelik in 1978 as skoolhoof af. In hierdie tyd skryf hy verskeie jeugreekse. Buiten Trompie en Saartjie was daar ook Die Bosapies van Bergville-reeks, Die Hendrik Hoffman-reeks, Die Louws van Linton-reeks, Die Gampietjie-reeks en Die Jantjie-reeks.

Smith se liefde vir sport blyk duidelik uit die talle niefiksie-sportboeke oor boks en rugbygeskiedenis wat hy geskryf het. Sy heel laaste boek, Nog net een keer, was ’n rugbyboek vir seuns wat ses jaar ná sy dood in 1991 verskyn het. Hy het ook talle tydskrifvervolgverhale onder skuilname geskryf.

Uiteindelik het meer as 200 boeke uit Smith se pen verskyn. Daar word gesê dat ’n sterk hoofkarakter en karakters wat hom of haar goed aanvul die resep vir ’n goeie reeksboek is. Daarin het MG Smith by uitstek geslaag. Hy sal veral onthou word vir sy groot bydrae om kinders lus en lief vir lees te maak en vir die kleurvolle karakters wat hy tot die Afrikaanse jeuglektuurskatkis toegevoeg het.

Voorwaar ’n baanbreker vir en ín Afrikaans!