Op 10 Oktober het die Bloemfonteinse Afrikaner Kultuurraad (BAK) sy eretoekenningsfunksie in Bloemfontein gehou waar die FAK ook vyf toekennings oorhandig het aan persone vir hul uitnemende werk vir die bevordering van ons erfenis. Die geleentheid het die uitsonderlike bydraes van sleutelpersone in die behoud en bevordering van Afrikanerkultuur gevier.

Die geleentheid is bygewoon deur die BAK-bestuur sowel as ’n gasspreker, prof. André Wessels, wat ’n boeiende toespraak gelewer het oor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog (ABO). Tydens die seremonie het Jan-Danie Malan, Sentrale kultuurkoördineerder namens die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) toekennings aan prof. Wessels, Martie Venter, Dirk Venter, Jacobus Silwer en prof. Barry Frey (postuum) oorhandig vir hul besonderse moeite en toewyding tot die Afrikanergemeenskap en -erfenis.

Die funksie is gehou om hierdie kulturele ambassadeurs te vereer en hulde te bring aan hul werk in die versterking van Afrikaner- kulturele identiteit.

Malan sê dit is ’n voorreg om dié persone se werk te kan vereer.

 

“Die FAK het vandag hierdie toekennings oorhandig as ’n teken van waardering vir die volgehoue ​​harde werk. Die FAK ondersteun jong leiers om op hul beste te kan presteer,” sê Malan.

Malan het spesifiek sy dank teenoor Dirk Venter uitgespreek.

“Dirk is regtig ’n spesiale mens met die uithouvermoë waarvan die meeste mense slegs in boeke lees. Vir die afgelope paar jaar onderhou hy die President Brand-begraafplaas en beywer hy hom vir die welstand van Afrikanererfenis in die groot stad Bloemfontein. Dirk is vreesloos in sy soeke na geregtigheid teen vandale wat erfenis verwoes.”