Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is trots om die suksesvolle voltooiing van die eerste Taalimpiese Spele ooit aan te kondig, ‘n unieke taalkompetisie wat ontwerp is om Afrikaans in die jaar voor sy 100ste bestaansjaar as amptelike taal te vier. Hierdie eerste geleentheid, geskoei na die Olimpiese Spele, sal nou elke vier jaar gehou word en intellektuele uitdagings kombineer met ‘n gees van pret en gemeenskap.

 

Die Taalimpiese Spele het afgeskop met ‘n reeks aanlyngeleenthede, sowel as ‘n geleentheid waar deelnemers fisies aan speletjies kon deel neem by die Voortrekkermonument (VTM) op 3 Augustus. Deelnemers van regoor die land het aan verskeie taalgebaseerde aktiwiteite meegeding, insluitend fotografie, poësie en woordspeletjies, wat hul taalvaardigheid in Afrikaans ten toon gestel het.

 

‘n Hoogtepunt van die geleentheid was die fisiese speletjies wat by die VTM gehou is, waar agt spanne, elk bestaande uit vier tot ses lede, in ‘n reeks opwindende taaluitdagings die stryd aangesê het. Die dag se gebeure het uitgeloop op ‘n oorwinning vir die Vryheidsfront Plus-span, wat goue medaljes, ‘n gesogte trofee en ‘n R500 Takealot-geskenkbewys verwerf het.

 

“Hierdie geleentheid was ‘n viering van ons taal, wat wys dat Afrikaans sy ‘taalspiere’ net so indrukwekkend soos die atlete in Parys kan bult. Dit was bemoedigend om te sien hoe deelnemers van alle ouderdomme bymekaar kom om Afrikaans te geniet en te vier,” het Barry Müller, hoof van nasionale projekte by die FAK, gesê.

 

Die Taalimpiese Spele het nie net die linguistiese talente van sy deelnemers uitgelig nie, maar het ook ‘n sterk gevoel van gemeenskap en mededingende gees bevorder. Die sukses van hierdie geleentheid het ‘n hoë standaard vir toekomstige kompetisies gestel, met selfs groter uitdagings en taalvieringe wat in die komende jare verwag word.

 

Die FAK spreek sy hartlike dank uit aan almal wat bygedra het om die Taalimpiese Spele ‘n sukses te maak. Ons sien uit daarna om nog meer deelnemers in die volgende uitgawe van die speletjies te verwelkom.