“Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) gee sy ondubbelsinnige steun aan Afrikaners wat jaarliks op 16 Desember die Gelofte van 1838 in ere wil hou, teen die aandrang van Suid-Afrika se president en regeringslui om tradisionele Geloftefeeste in regeringsgedrewe, staatlike en politieke ‘Versoeningsdagvierings’ te laat opgaan.”

Só sê die voorsitter van die FAK se direksie, dr. Carel Boshoff, ná afloop van die nasionale Versoeningsdagvierings by die Ncome-museum, oorkant Bloedrivier, wat deur ’n afvaardiging onder sy leiding bygewoon is. By dié geleentheid het sowel pres. Cyril Ramaphosa as Gayton McKenzie, minister van sport, kuns en kultuur, pleidooie gelewer vir “’n gesamentlike viering volgende jaar.”

Boshoff het in sy toespraak by die geleentheid aangevoer dat geen betekenisvolle versoening sonder betekenisvolle erkenning moontlik is nie. “Gemeenskapsleiers, burgemeesters, politici, ministers, premiers, eerste ministers, konings en presidente kan byeenkom om ou verskille by te lê, maar dit sal net slaag in soverre hulle dit in ’n gees van wedersydse erkenning en respek benader.”

Hy het voorts gesê dat Afrikaners ’n nuwe rol in die huidige bedeling in Suid-Afrika opgeneem het, maar nie hulle volkskap en nasionale identiteit, kultuur of taal prysgegee het nie – net soos die Zoeloevolk en koninkryk ook nie hulle bestaan oor geslagte heen en onder verskillende bedelings prysgegee het nie.

Dit het hy gesê teen die agtergrond van die Zoeloekoning, koning Misuzulu ka Zweletini, se opvallende afwesigheid by die geleentheid en Zoeloe impi’s in tradisionele drag en met tradisionele wapens se herhaalde ontwrigting van die program.

Oor die aandrang op gesamentlike vierings van Versoeningsdag het Boshoff ná afloop van die program gesê dat hy albei geleenthede, naamlik die erediens by Bloedrivier en die byeenkoms by Ncome bygewoon het, en dat dit só verskillend van aard was dat die samevoeging daarvan ondenkbaar is.

“’n Karnavalistiese vertoon van verskillende kulturele simbole onder die vaandel van nasionale eenheid, soos deur pres. Ramaphosa voorgehou, waarin nóg die Zoeloevolk, nóg die Afrikanervolk ’n nasionale bestaan kan voer, is geen werklike versoening nie. Dit berus naamlik op geen wesenlike erkenning nie. En as erkenning die grondslag van Versoeningsdag sou wees, is die vraag waarom één

viering beter as verskeie en verskilllende geleenthede sou wees, veral as die één viering blyk ’n staatsgedrewe, regeringsbefondsde platform vir politici te wees.

“In 2025 was daar wêreldwyd meer as 230 Geloftefeeste en by die Voortrekkermonument in Pretoria het sowat 40 000 mense die Geloftediens bygewoon. Ons voorsien dat dit in die toekoms méér eerder as minder sal word,” het Boshoff gesê.