Die FAK-kultuurnetwerke is die hartklop van erfenisbewaring in ‘n gemeenskap en die nuwe Pietersburg-Kultuurnetwerk dra nou by tot hierdie pols. Hierdie netwerk is amptelik op die 25ste Julie gestig met ‘n rekord getal gaste wat die geleentheid bygewoon het.

 

Hester Roodt, ondervoorsitter van die nuutgestigde kultuurnetwerk, sê: “Die stigting van hierdie kultuurnetwerk gaan vir ons van groot hulp wees in die toekoms. Ek waardeer die FAK verskriklik en dit gaan wonderlik wees om saam te werk. Die funksie was baie lekker gewees. Daar was heelwat mense van die ouer generasie wat wonderlik is, want hulle het baie kennis sowel as belangstelling in die geskiedenis en omgewing. Dit was ‘n absolute wonderlike ervaring gewees.”

 

Barry Müller, nasionale hoof van projekte, sê: “Daar was ‘n ongelooflike 44 mense wat die funksie bygewoon het, en dit is regtig vir my lekker om te sien hoe die liefde vir ons kultuur en erfenis groei met elke nuwe kultuurnetwerk wat gestig word. Daar is huidiglik 37 kultuurnetwerke in 8 van ons 9 provinsies en ons hoop om nog verder uit te brei in die nabye toekoms.”

 

Daar is ‘n groot drang onder Afrikaners om erfenis in gemeenskappe te beskerm, te bevorder en te behou en dit kan gedoen word deur hande te vat en self te doen.

 

Charles Rademeyer, kultuurnetwerkkoördineerder van die Noordelike provinsies sê: “Lede van die publiek het sonder huiwering hande gevat met een doel voor oë – red Pietersburg se erfenis.”

 

Dit is ontsaglik belangrik dat die Afrikaneridentiteit behoue moet bly vir die nageslagte, deur ons taal, kultuur en Afrikanergeskiedenis te beskerm en bevorder.

 

Ons is die argitekte van die toekoms van die Afrikanernalatenskap en deur saam te staan en nou aksie te neem, word die voortbestaan van die Afrikaneridentiteit verseker.

 

“Die trots wat hierdie groep mense op hul skouers dra, is werklik spesiaal. Groot projekte lê klaar voor wat vroeg volgende jaar sal afskop om die geskiedenis te bewaar en taal in die gemeenskap te versterk,” sê Rademeyer.