Die FAK vereer ’n onderwyser van die Wes-Kaap wat al vir 20 jaar een van Suid-Afrika se literêre en taalpioniers se werke en lewe herdenk.
12 Augustus is by die meeste skole bloot die begin van nog ’n skoolweek in die derde skoolkwartaal. By Hoërskool Langenhoven in Riversdal het 12 Augustus al vir baie jare ’n meer besondere betekenis. Daar is dit elke jaar Langenhovendag, want die geboortedag van CJ Langenhoven op 12 Augustus 1873, word elke jaar hier onthou en gevier.
Hierdie jaarlikse herdenking is in 2004 deur Martha de Beer, ’n Afrikaanse onderwyseres by die skool, van stapel gestuur. Sy vertel volgende jaar gaan dit nog groter wees met Afrikaans se 100ste verjaarsdag. In die amptelike erkenning van Afrikaans op 8 Mei 1925 het CJ Langenhoven, destyds as volksraadslid, ’n deurslaggewende rol gespeel.
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het aan De Beer ’n FAK-toekenning vir uitnemendheid oorhandig en erkenning gegee vir haar volgehoue toewyding om ’n passie vir Afrikaans en suiwer taalgebruik by haar leerders te bevorder, en vir die rol wat sy speel om die nalatenskap van CJ Langenhoven by die skool lewend te hou.
Op hierdie dag word die saalbyeenkoms gewy aan Langenhoven. Van sy spreuke word onder andere aangehaal, kosbare toerusting om steeds vandag as inspirasie te dien en vir kinders lewenswaarhede te leer.
Op die vraag waarom sy dit doen, was haar antwoord, “hul erfenis moet vir kinders lewend gehou word en hulle moet weet wat Langenhoven gedoen het vir Afrikaans.”
De Beer sê sy vertel gereeld vir haar leerders dat Afrikaans nog baie jonk is en in “sy kinderskoene staan en dat ons bouers is aan ons taal.”
Op die vraag wat is haar gunsteling- Langenhoven spreuk gee sy die volgende en motiveer haar keuse omdat liefde so prominent daarin is: “Deur twee dinge is die lewe vir my leefbaar gemaak. Die liefde wat ek gegee het en die liefde wat ek ontvang het.”
Langenhoven het ook gesê: “Om jou een taal tot nut te gebruik is ’n groter kuns as om sewe nuwes by te leer.”
Staaltjies oor De Beer word vertel dat sy streng waak oor suiwer taalgebruik by haar leerlinge en dat oudleerlinge haar na jare steeds kontak oor Afrikaans.
Elizma Smith, FAK se kultuurkoördineerder in die Suidelike streek, sê dit is ’n riem onder die hart om te weet daar is vandag nog taalstryders vir Afrikaans in ons gemeenskappe.
“Onderwysers wat hulle leerders begelei om hul moedertaal tot nut te gebruik, is ’n inspirasie en gee hoop vir die toekoms van ons mooi taal Afrikaans,” sê Smith.