’n Golf van opgewondenheid en trots het op 24 Februarie deur Die Hoërskool Menlopark se gange gebruis toe die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die FAK-Jeug ’n spesiale toekenning aan dié skool oorhandig het.

 

Dié toekenning vir akademiese uitnemendheid en moedertaaltrots kom nadat die Hoërskool Menlopark die meeste onderskeidings landwyd in Afrikaans Huistaal in die 2024- Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen behaal het. Menlo se matriekgroep van 322 leerders het ’n verstommende 137 onderskeidings in Afrikaans Huistaal ingeoes!

 

Volgens Dawid Brand, bedryfshoof: beeld en groei van die FAK, het Menlopark boonop algeheel die tweede meeste onderskeidings van alle skole landwyd in die NSS-eksamen behaal, naamlik 755. “Hoërskool Menlopark gee jaarliks die toon aan met uitstekende matriekuitslae. Veral die skool se prestasie in Afrikaans Huistaal is merkwaardig.

 

“Moedertaalonderrig is vir die FAK ononderhandelbaar. Jaar ná jaar lewer moedertaalonderrig ’n merkbare bydrae tot die prestasie van Afrikaanse matrieks landwyd, en hulle gee keer op keer die toon aan wat skitterende slaagsyfers en toelating tot B-graadstudie betref,” het Brand gesê.

 

Volgens Brand is die FAK-eerbewys enersyds ’n erkenning van Menlopark se uitnemendheid en andersyds die skool se toewyding om die vlam van Afrikaans helder te laat brand. “In die gees van die viering van Afrikaans 100 vanjaar, bring ons graag hulde aan dié wat die taal gegrondves het, maar ook aan ’n nuwe geslag toekomsbouers vir wie Afrikaans as hartstaal die vergestalting van droom en doen is.”

 

Die Voortrekkermonument se geliefde gelukbringer, oom Paul Kruger, het ook saamgegaan en gesorg vir ’n onvergeetlike oggend van uit-die-maag-uit-lag en hope pret. Leerders en onderwysers het opgespring om vir oom Paul ’n drukkie te gee, ’n selfie saam met hom te neem of net lekker saam te dans.

 

Die besoek is afgesluit met ’n prettige vraag-en-antwoordsessie wat die leerders se kennis oor die FAK en sy rol in die geskiedenis getoets het. Die wenners het kaartjies ontvang om ’n vertoning van die Toekomsbou Museumteater by die Voortrekkermonument by te woon.

 

“Die energie, entoesiasme en taaltrots was tasbaar. Voorwaar ’n herinnering aan hoe kragtig Afrikaans ná ’n eeu steeds is,” het Brand gesê.

 

As jy hê oom Paul en tannie Gezina Kruger moet by jou skool kom kuier, stuur ’n e-pos na [email protected]