Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het op 5 Maart ’n spesiale toekenning van waardering aan Hendrik Gerhardus Johannes Beukes – beter bekend as Oom Gert – oorhandig vir sy erfenisbewaringswerk in die Oos-Vrystaat.
Die toekenning is namens die FAK oorhandig deur Lieandri Ackermann, die organisasie se nuwe kultuurnetwerkkoördineerder in die Sentraal-streek, tydens die borge-aand van die Clocolan Kultuurfees.
Ackermann het die aand beskryf as ’n besondere ervaring wat die hart van Vrystaatse gemeenskapslewe en kultuur weerspieël het.
“Daar was ’n warm, gesellige atmosfeer onder die Vrystaatse boere, met ’n heerlike maaltyd van biefstuk, mieliepap en sous. Dit was ’n aand wat ons weereens herinner het hoe sterk ons gemeenskappe en tradisies is,” sê sy.
Die emosie het vlak gelê toe Oom Gert die FAK-toekenning ontvang het. “Hy was diep ontroer en het dit glad nie verwag nie. Dit was vir my ’n groot voorreg om namens die FAK iemand te kon vereer wat soveel tot die bewaring van ons geskiedenis en erfenis bydra,” sê Ackermann.
Lewende museum op Vlakfontein
Beukes word lank reeds geassosieer met erfenisbewaring in die Oos-Vrystaat. Gebore in Pretoria op 12 Mei 1945, is sy lewe onlosmaaklik verbind aan die plaas Vlakfontein naby Clocolan, waarheen sy gesin verhuis het toe hy nog ’n baba was. Agt dekades later woon hy steeds op dieselfde grond.
Wat begin het as ’n kind se liefde vir trekkers, osse en enjins, het oor dekades gegroei tot een van die mees unieke privaat versamelings van landbou- en vervoergeskiedenis in Suid-Afrika. Vandag het Vlakfontein in ’n lewende museum ontwikkel, waar besoekers ou trekkers, enjins, waens, koetse en selfs ’n stoomtrein kan sien.
Een van die plaas se mees unieke kenmerke is ’n 400 meter lange stoomtreinspoor wat Beukes self gebou het. Wanneer die klein treintjie loop, beleef besoekers van alle ouderdomme iets van ’n era wat andersins net in geskiedenisboeke sou bestaan.
Beukes is ook bekend vir sy noue verbintenis met die natuur, wat hom die bynaam “Kaalvoet Oom Gert” besorg het. Hy werk dikwels kaalvoet op die plaas en span sy osse sonder skoene in, wat sy liefde vir die grond en ’n eenvoudige, natuurgesentreerde leefstyl weerspieël.
Sy osse en ossewa het ook in die Afrikaanse rolprent Die verhaal van Racheltjie de Beer verskyn, waar sy diere gehelp het om ’n stukkie geskiedenis op die skerm tot lewe te bring.
Bewaarder van stories
Vir die FAK lê Beukes se grootste bydrae nie net in sy versameling nie, maar ook in die kennis en stories wat hy daaroor deel. Hy ken die oorsprong van elke item in sy versameling – waar dit vandaan kom, hoe dit verkry is en wat dit verteenwoordig.
“Ons het nie net ’n versamelaar vereer nie,” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste. “Ons het ’n bewaarder van ons kulturele geheue vereer. Oom Gert herinner ons daaraan dat kultuur en erfenis nie net in museums en monumente leef nie, maar in mense, families en stories wat oorvertel word.”
Die aand is selfs meer betekenisvol gemaak deur die teenwoordigheid van Beukes se familie. Sy seun, Hendrik Gerhardus Johannes Beukes, en dogter Rina Beukes-Meyer het die geleentheid saam met hul gesinne bygewoon.
Ná die oorhandiging het Beukes-Meyer Ackermann persoonlik bedank vir die FAK se erkenning van haar pa se lewenslange passie vir geskiedenis en kultuur. Die familie het die organisasie ook genooi om Vlakfontein in die toekoms te besoek wanneer Oom Gert weer plaaslike Voortrekkergroepe ontvang vir opvoedkundige besoeke op die plaas.
Fees vier 75 jaar
Die Clocolan Kultuurfees, wat vanjaar sy 75ste bestaansjaar vier, het op 6 en 7 Maart op die feesgronde in Clocolan plaasgevind. Oor die dekades het die fees gegroei tot ’n belangrike kulturele byeenkoms waar gemeenskappe saamkom om hul geskiedenis, tradisies en erfenis te vier.
Besoekers kon die Clocolan Kultuurfees bywoon en die stories en tradisies herontdek wat deel vorm van die streek se kulturele nalatenskap – die plekke waar erfenis aan die volgende geslag oorgedra word.
