Die tweede fase van die FAK-Skryf’it-liedjieskryfkompetisie is amptelik aan die gang, en die spanning onder die deelnemers is tasbaar. Ná ’n rekordgetal van 1 101 inskrywings gaan die beste van die bestes nou om ’n plek in die finale rondes meeding.
Die groot beoordeling het vanaf 1 tot 27 Junie plaasgevind waarby’n paneel bestaande uit Afrikaanse kunstenaars en liedjieskrywers, insluitend Steve Hofmeyr, Pieter Smith, Logan Pietersen, Jannie du Toit, Monica Maree, Stefan Jansen, Machiel Roets, Gian Groen en Bibi du Preez, asook name soos Jakkals Vibes en Blixim Straat, die moeilike taak gehad het om deur al die liedjies te werk en punte te gee vir verskeie aspekte waarna gekyk is. Punte is gegee vir die lirieke, tematiek, melodie, refrein, radiovriendelikheid, musikale styl, genre en die algehele potensiaal van die liedjie in die musiekbedryf.
Nadat al die punte bymekaar getel is, is daar besluit om die 80 top liedjies na die volgende rondte te laat deurdring. Dié 80 liedjies bestaan uit 40 oorspronklike komposisies en 40 liedjies waarin kunsmatige intelligensie (KI) as musikale verwerkingshulpmiddel gebruik is. FAK-Skryf’it is een van die min kompetisies wat doelbewus ondersoek instel na die verhouding tussen menslike kreatiwiteit en tegnologie in die skeppingsproses van nuwe Afrikaanse musiek.
Die top 10 liedjies in elkeen van die twee kategorieë is verdeel tussen vyf ghoeroes (mentors), wat elkeen twee liedjies ontvang het. Die res van die liedjies is in ‘n gesamentlike liedjiepot geplaas.
Elke ghoeroe ontvang in totaal dus vier liedjies – twee oorspronklike liedjies en twee liedjies met KI- musikale verwerkings. Die mentors het egter die vryheid om met hul toewysings te woeker en selfs liedjies uit te ruil indien ander liedjies in die pot beter by hul kreatiewe styl aanklank vind.
Die vyf ghoeroes wat vanjaar die volgende generasie liedjieskrywers gaan begelei, is Andriëtte Norman, William Wolf, Danie Reënwolf (Spoegwolf), John-Henry Opperman (van Klopjag-faam) en Ampie.
Volgens Barry Müller, die FAK se nasionale hoof van gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte, is hierdie fase een van die opwindendste dele van die kompetisie. “Ons het ongelooflike inskrywings ontvang. Nou begin die volgende hoofstuk waar ervare kunstenaars hierdie liedjies verfyn en moontlik die volgende groot Afrikaanse treffers help vorm. Dit is ’n voorreg om te sien hoe onbekende skrywers se werk in die hande van gevestigde kunstenaars beland.”
Vir die deelnemers is dit ook ’n tyd van afwagting. Die ghoeroes is tans besig om hul finale keuses te maak en deelnemers word aangemoedig om hul selfone byderhand te hou.
“Jy weet nooit wanneer die oproep kan kom nie,” sê Müller. “Vir sommige deelnemers kan die volgende oproep die begin van ’n lewensveranderende reis wees. ’n Ghoeroe kan enige tyd besluit dat jou liedjie die een is waarmee hy of sy wil werk.”
Die publiek gaan ook binnekort die geleentheid kry om deel van die kompetisie te word wanneer die stemproses amptelik afskop. Hierdie eerste fase van die stemproses gaan oor ‘n tydperk van vyf weke plaasvind, waarby jy elke week vir ‘n ander Ghoeroe se gekose liedjies kan stem.
Op Maandag, 13 Julie open die stemlyne vir die vier liedjies wat deur Andriëtte Norman gekies is. Op 20 Julie volg William Wolf se vier liedjies, waarna die publiek vanaf 27 Julie vir Danie Reënwolf se liedjies sal kan stem. Op 3 Augustus open die stemlyne vir John-Henry Opperman se liedjies, en op 10 Augustus kry die publiek die geleentheid om vir Ampie se vier gekose liedjies te stem.
Vir elkeen van die vyf stemgeleenthede maak die stembusse die Maandag om 08:00 oop en sluit die Donderdagaand om 00:00. Dit gee die publiek vier dae om te stem en drie dae vir die organiseerders om die stemme te tel en daardie week se wenners bekend te maak.
Die FAK moedig die publiek ook aan om die kompetisie se sosialemediaplatforms dop te hou, waar meer inligting oor die deelnemers, hul stories en die liedjies bekend gemaak sal word.
Volgens Müller is die kompetisie veel meer as net ’n soektog na die volgende treffer. “FAK-Skryf’it gaan oor die bewaring en ontwikkeling van die Afrikaanse liedkuns. Ons gee nie net aan nuwe skrywers ‘n geleentheid om die musiekbedryf te betree nie, maar skep ook ’n platform waar daar nuwe stemme vanuit ons gemeenskap gehoor kan word en bou terselfdertyd aan die toekoms van Afrikaanse musiek. Die feit dat ons vanjaar meer as 1 000 nuwe liedjies ontvang het, wys dat mense steeds glo in die krag van goeie lirieke, betekenisvolle stories en musiek wat iets in die hart van die luisteraar wakker maak.”
Hy voeg by dat die tweede fase van die kompetisie juis die unieke karakter van FAK-Skryf’it beklemtoon. “Hier gaan dit nie oor roem of gewildheid nie. Dit gaan oor die liedjie self,” sê Müller. “Die woorde, die melodie en die vermoë van musiek om mense te laat voel, onthou en droom. Ons sien reeds liedjies wat die potensiaal het om nog jare lank deel van die Afrikaanse musieklandskap te wees.”
Met die ghoeroes wat tans hul finale besluite neem en die stemproses wat binne dae begin, is die FAK-Skryf’it-kompetisie gereed om sy mees opwindende fase nog te betree – een waarin nuwe stemme ontdek word en die volgende hoofstuk van Afrikaanse musiek geskryf word.
Belangstellendes kan hul stemme uitbring deur die kompetisie se amptelike webwerf, skryfit.co.za, te besoek. Vanaf Maandag 13 Julie kry elke persoon die geleentheid om elke week een keer aanlyn te stem en een keer per SMS, deur die liedjie se kode na 45730 te SMS.





