Op Vrydag, 16 Augustus, by die jaarlikse Cantare-kinderkoorfees wat deur die Cantare-kinderkoor by die NG Kerk Alberton-Suid aangebied is, het die FAK met trots die gesogte S le Roux Marais-toekenning aan die legendariese sopraan Barbara Veenemans oorhandig. Dié toekenning, wat uitsonderlike bydraes tot Suid-Afrikaanse musiek en kultuur vier, is nog net een keer vantevore toegeken, met Jannie Moolman as die eerste ontvanger in 2022.

Lian Davel, een van die kinders wat opgetree het, sê: “Dit was baie lekker en ek wens ek kan dit weer volgende jaar doen. Ek hou baie daarvan om in die koor te wees.”

“Dit was wonderlik,” sê ’n toeskouer, Neels Mulder. “Dit was fantasties. Om te sien hoe mooi die mense meng, was baie lekker gewees.”

Barbara Veenemans, gebore op 18 Januarie 1938 in Witbank, is al dekades lank ’n hoeksteen van Suid-Afrikaanse opera en musiekteater. In die voetspore van haar musikale familie het sy ’n vooraanstaande loopbaan uitgekap en gehore bekoor met haar kragtige liriese stem en onvergeetlike verhoogteenwoordigheid. Oor 50 jaar het sy uitgeblink in operas, operettes en musiekblyspele, met ikoniese vertolkings in rolle soos Hanna Glawari in The Merry Widow en Susanna in Mozart se The Marriage of Figaro.

Buiten die verhoog het Barbara beduidende bydraes tot die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf gelewer en een van die eerste musieksterre geword wat op televisie verskyn het. Haar toewyding tot die bevordering van Afrikaanse musiek en kultuur het haar talle lof besorg, insluitend sertifikate van die FAK en die Musiekgemeenskap van Pretoria.

Benewens haar roemryke loopbaan, was Barbara ’n gerespekteerde sangonderwyseres, koordirigent en beoordelaar, wat jong talent gekweek en die toekoms van Suid-Afrikaanse musiek gevorm het.

“Die S le Roux Marais-toekenning word spesifiek toegeken vir haar bydrae tot die bevordering van die Afrikaanse kunslied vir die afgelope 50 jaar,” noem Lieandri Ackermann, projekbeampte van die FAK wat die toekenning aan Veenemans oorhandig het.

Die aand is selfs meer spesiaal gemaak deur optredes van ’n reeks talentvolle kore, insluitend die Cantare Kinderkoor, Dulcet Cantare Development Group, General Alberts Junior Choir, General Alberts Senior Choir, Overvaal High School Choir, Harmonia Girls Choir en Voces Libres Chamber-koor.

Nadine Watkins, ook een van die sangers, sê: “Dit was vir my so ’n groot voorreg om deel te wees van die FAK se viering van Barbara Veenemans. Dit was regtig ’n besonderse aand gewees en ek het dit absoluut gate uit geniet. Dit was ’n aand vol musiek, mooi klanke en stories en ek sal definitief weer in die toekoms wil deel wees hiervan.”

Die FAK is trots om Barbara Veenemans, ’n ware ambassadeur van musiek en kultuur, te vereer wie se nalatenskap toekomstige geslagte sal bly inspireer.