’n Groep blitsbreine het Dinsdag 19 Maart hul (woord)staal by die Voortrekkermonument in Pretoria gewys in ’n Flinkdink-vasvrakompetisie wat deur die Rapportryerbeweging (RRB) en die FAK aangebied is.

Dit is die tweede keer dat dié geleentheid deur die RRB gehou is. Vanjaar se woordstryd was ekstra spesiaal omdat dit deel vorm van die RRB en FAK se viering van Afrikaans se 100ste bestaansjaar.

Verteenwoordigers van verskeie kultuurorganisasies het in ’n aand vol pret gedeel en moes behoorlik bontstaan om vrae oor alles van die geskiedenis van Afrikaans tot Afrikaanse musiek en algemenekennisvrae te beantwoord. Daar is gewoeker met woorde en ’n paar kopkrappers het selfs gesoute historici se denkratte behoorlik laat draai.

Die Lekkerdraai-boeredansgroep van Wapadrand, Die Dameskring se Pretoria-tak, Jakaranda RRB, Rietvallei-, Wapadrand- én Theuns Meyer-Voortrekkerkommando, die Afrikanerbond, Voortrekkermonument en natuurlik ook die FAK en FAK-Jeug was van die organisasies wat ywerig meegeding het.

Die vrae is deur jong personeellede van die FAK opgestel en gewys waarom dié organisasie ná 95 jaar steeds as voorloper in die uitbou en ontwikkeling van ons taal en ryk kulturele erfenis beskou word.

Etienne Hansen het die geskiedenisafdeling opgestel, met talle interessanthede soos wie die eerste professor in Afrikaans was, wat die eerste Afrikaanse rolprent was en wie die GRA was.

Lieandri Ackerman, FAK-projekbeampte, het die deelnemers ’n kultuurinspuiting gegee en die kreatiwiteit met van die mooiste Afrikaanse musiek gekielie.

Barry Müller, die FAK se hoof van nasionale projekte, het op sy beurt as seremoniemeester gesorg vir baie energie en hope opwinding met die Taalmaal.

Taalmaal is in 2024 deur die FAK ontwikkel as deel van die Taallimpiese Spele. Dié speletjie daag deelnemers uit om deur hul geheuewoordeboek te blaai en soveel moontlik Afrikaanse woorde met lukrake letters te bou.
Volgens Müller is dit altyd ’n fees om te sien hoe mense saam kan lag, sing, leer en speel in Afrikaans.

“Vanjaar is ’n mylpaaljaar vir ons Moedertaal en dit is wonderlik om Afrikaans se eeufees met ons taal-en-kultuurvriende te deel wat waarlik die fakkeldraers van ons erfenis is. Dit is inspirerend om te sien hoe organisasies soos die RRB steeds vars en unieke maniere vind om ons taal en kultuur te bewaar en uit te bou,” sê Müller.

Die RRB het ook ’n nuwe liedjie, “Draers van die boodskap”, ter viering van die organisasie se 75ste bestaansjaar bekendgestel.

Cilliers de Kock, voorsitter van die RRB, sê hy is baie dankbaar dat dié organisasie vanjaar die spesiale geleentheid met ander kultuurorganisasies kon deel en hy hoop dat die geleentheid ander sal inspireer om ook vanjaar hul taal en kultuur uit te leef en vier.