Die FAK in samewerking met Entertainment & Event Factory en Vonk Musiek het as deel van die 100ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike landstaal ’n opwindende liedjieskryfkompetisie genaamd Skryf’it bekendgestel.

Skryf’it is die eerste liedjieskryfkompetisie van sy soort in Suid-Afrika wat die liedjieskrywers van die toekoms ’n platform gee om hul pennevrug, saam met van die gewildste kunstenaars in Afrikaans, aan die wêreld bekend te stel.
Liedjieskrywers wat deur ’n keuringspaneel gekies word, gaan elk saam met ’n bekende kundige werk om hul lied te verfyn.

Hierdie paneel bestaan uit sangers en musici soos Pieter Smith, Jannie Moolman, Machiel Roets, Gisela de Villiers en Sallas de Jager.

Uiteindelik gaan kundiges soos Herman Kleinhans, dié liedjies self opneem en sing. Al die kundiges, bekend as “ghoeroes,” gaan oor die volgende paar dae bekend gemaak word.

Die kompetisie gaan op Via (DStv-kanaal 147) uitgesaai word om die publiek die geleentheid te gee om die liedjieskrywers te leer ken, die liedjies te hoor én uiteindelik vir hul gunsteling te stem.

Skryf’it daag skrywers uit om die volgende groot Afrikaanse lied te skryf. Die idee vir dié kompetisie is geïnspireer deur die nuwe FAK-Sangbundel wat in 2029 uitgegee word. Enigiemand ouer as 16 jaar kan aan hierdie kompetisie deelneem.

Ziegfried van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK, sê hy is baie opgewonde oor Skryf’it en hoop dat dit liedjieskrywers sal inspireer om hul talente in te span om hul taal en kultuur saam met die FAK die toekoms in te dra.

“C.J. Langenhoven het in 1921 ‘Die Stem van Suid-Afrika’ in sy bundel Eerste skoffies op die pad van Suid-Afrika gepubliseer. Tien jaar later het die FAK ’n kompetisie geloods om ’n nuwe nasionale volkslied vir Suid-Afrika te kry. Langenhoven se gedig is toe deur die keuringskomitee genomineer en vandag nog leef dié lied voort as een van die mees geliefde Afrikaanse volksliedjies,” vertel hy.

“Wanneer ’n mens die storie agter die ‘Die Stem van Suid-Afrika’ hoor, besef ’n mens net weer hoe belangrik dit is om die skrywers, digters en musikante van ons land te inspireer om hul taal en kultuur uit te bou; daarom is ek só opgewonde oor hierdie projek.”

Barry Müller, die FAK se nasionale hoof van geskiedenis-, gemeenskap- en ad hoc-projekte, wat dié kompetisie organiseer, glo nes Van Huyssteen dat Skryf’it die potensiaal het om ’n nuwe groot Afrikaanse lied te ontdek, wat vir jare nog in die harte van Afrikaanse musiekliefhebbers gaan speel.

“Soos die FAK voeër jare ‘Die Stem’ ontdek het, wil ons nou JOU stem ontdek,” sê Müller.

Besoek https://www.skryfit.co.za/ vir meer inligting of om in te skryf.

#FAK #Skryf’it #kompetisie #Afrikaans100 #trotsAfrikaans