“Jy met jou mandolientjie, ek met my bandolientjie,” sing ons al jare lank saam in Afrikaans …
As jong Afrikaanssprekendes het baie van ons, sonder dat ons dit noodwendig besef het, elke dag ’n liedjie uit die FAK-Sangbundel geneurie. Vanjaar trek dié liedjies van ons kinderdae ’n splinternuwe baadjie aan saam met AfriForum TV en van die land se gewildste sangers.
“Wortels en Woorde” is ’n opwindende nuwe projek wat vanjaar deur AfriForum TV aangepak word as deel van die landswye Afrikaans 100-vieringe. Die FAK was gelukkig genoeg om onlangs saam te kon kuier toe Janie Bay die eerste keer agter die mikrofoon inskuif om haar weergawe van “Die oukraalliedjie” by AfriForum TV se ateljee in Centurion op te neem.
“Om ‘Die oukraalliedjie’ alleen aan te pak, voel vir my vreemd,” vertel Bay toe sy met die FAK gesels het tydens die opname.
Vir haar is dié lied soos baie ander uit die Sangbundels werklik volksbesit en vertel sy dat dit eienaardig voel om só ’n geliefde liedjie aan te pak.
“Ek het hierdie liedjie al ’n paar keer live gesing saam met my boetie en later ook saam met my man en dit voel, soos die Engelse sal sê ‘vulnerable’ om ’n liedjie wat soveel betekenis vir mense het alleen te sing. Ek hoop ek sal dit die eer gee wat dit verdien,” sê sy.
“Ons het nie in ’n tipiese Afrikaanse huis grootgeword nie en ek het eintlik vir jare lank nie eers geweet ‘Die oukraalliedjie’ kom uit die Sangbundel nie; dit was maar net ’n liedjie wat gereeld in ons huis gespeel het en toe ek deel word van die projek het ek vir die eerste keer besef hoe die FAK-liedjies werklik oral was – Ons het dit in die skool gesing en selfs by sportbyeenkomste van die pawiljoene af gesing. Dit is liedjies wat net in ons huis en tussen ons maatjies en by die skool was; dis so diep gewortel in ons dat dit selfs vir my moeilik is om ’n gunsteling FAK-liedjie te kan kies.”
Leandra Enslin, vervaardiger by AfriForum TV, sê sy is baie opgewonde oor hierdie projek omdat dit, in die jaar wat ons 100 jaar van Afrikaans as amptelike taal vier, weer nostalgie en ’n nuwe passie vir ons taal kan laat opvlam in mense.
“Wortels en Woorde is ’n manier om ons taal te vier, waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is en dit is lekker om te kan hande vat met bekende jong sangers van vandag om nuwe lewe te gee aan ons ou gunstelingliedjies en -gedigte,” sê sy.
Ander sangers wat by die projek betrokke is, is Kristi Steyn, Danie du Toit, van Spoegwolf-faam en Chris Chameleon. Hulle beoog om in Mei-maand die eerste musiekvideo’s bekend te stel.
Ziegfried van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK, sê hierdie projek bewys net weer hoe ’n groot impak die FAK-liedjies op die Afrikaanse taal gehad het.
“Die FAK-Sangbundel is ’n onmiskenbare deel van die ontwikkeling van ons taal en kultuur en dit is verblydend om te sien hoe ander organisasies ook die Sangbundel se plek in die Afrikanerboekrak vier met projekte soos Wortels en Woorde,” sê Van Huyssteen.
“Ons is saam met AfriForum TV opgewonde om te sien wat die jonger sangers gaan doen met ons gunsteling-FAK-treffers en hoop dat dit mense opnuut weer passievol sal maak oor musiek, poësie en letterkunde in hul moedertaal.”