Van Amerikaner tot Afrikaner
Edward Pauw is gebore en woon in Amerika, maar vier met trots vir byna ’n dekade lank al Geloftedag saam met sy mense, die Afrikaners.
Pauw se grootouers het meer as 100 jaar terug van Nederland na Amerika getrek. Hy het in twee Hollandse kerke sy geloofswortels gevind. Sy ouers en grootouers het dit in hom ingeboesem dat die Hollanders en Afrikaners soos een volk is.
Pauw, wat in Irvine, in Kalifornië, woon, het saam met sy ouers vir die eerste keer in 1990 in Suid-Afrika gekuier by sy neefs, ook Nederlanders, wat hier woon.
“Ek was baie verbaas om te vind dat die filosofiese grondslag van die Afrikaners dieselfde is as myne of eerder ons s’n. Toe ek ’n kind was, het my ouers ons vertel dat ons kultuur en waardes verskil van die Amerikaners s’n. Ons was nie Amerikaners op daardie manier nie, en ek het dit elke week in die skool gesien,” sê Pauw.
In 1993 besoek hy Suid-Afrika vir die tweede keer. In daardie jaar het hy vir die eerste keer Geloftedag bygewoon en dit het hom diep geraak en hom altyd bygebly.
Sowat agt jaar gelede het Pauw net besluit dit is tyd dat hy Geloftedag in Amerika begin vier.
Hy het so ’n groot voorliefde vir die Afrikaanse taal en kultuur ontwikkel dat hy selfs nou elke week aanlyn lesse kry by ’n onderwyser in Johannesburg om Afrikaans te leer praat.
Dis Edward Pauw se oortuiging dat die toekoms van die Afrikaner bepaal word deur die verhouding wat hulle met God het. Volgens hom is ’n intieme verhouding met God van kardinale belang. “Sonder God sal ons volk verdwyn,” sê Pauw.
Pauw leer met trots vir sy 13-jarige seun oor die erfenis en die Afrikaner. “Ek dink die toekoms vir sy kleinkinders en afstammelinge sal beter wees met ons volk (Afrikaners). Ek leer hom oor God, Jesus, ons volk, Geloftedag, ons kultuur, ons erfenis, sodat hy die toekoms beter kan sien. Ek hoop hy sal sien wat ek sien.”
Edward Pauw en sy seun het in die verlede na die regstreekse uitsending van die sonstraal op die senotaaf gekyk. Hulle sou voor 2:00 in die oggend wakker word om hierdie spesiale oomblik saam te spandeer. “Ons word nog wakker voor 2:00 in die oggend en onthou die diens by die monument. Ek is bly hy wil nog wakker word om die diens te onthou,” sê Pauw.
Die Gelofte word vanjaar vir die 185ste keer herdenk. Die FAK wil graag in samewerking met die Voortrekkermonument 185 000 mense kry wat die Gelofte herbevestig. Selfs in die buiteland! Die name van die persone wat die Gelofte herbevestig, sal in ’n tydkapsule geplaas word en weer op die 200-jaar-viering van die Gelofte oopgemaak word.