“En hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.”

– Psalm 1:3

Wanneer jy ’n boom plant, plant jy dit waarskynlik met die wete dat jy nie onder sy skaduwee gaan rus nie. Tog keer dit ons nie om bome aan te plant nie, want ons het die wete dat ons kinders en kleinkinders eendag onder daardie boom gaan speel.

Dit is 185 jaar sedert die Slag van Bloedrivier. Vir die Groot Trek 185-herdenking, wat die FAK deurlopend in 2023 gevier het, is die kersie op die koek die aanplant van 185 bome op die Bloedrivier-erfenisterrein.

Dié projek, genoem die Groot Trek 185 Bomefonds, het uiteindelik na ’n jaar se beplanning sy einddoel bereik. Nou begin die storie eers.

Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sê dat ons met die plant van 185 bome by die Bloedrivier-erfenisterrein bevestig dat ons in die Woord van die Here gewortel is en met toekomshoop leef.

“Bome is ’n langtermynbelegging wat in Afrika se warm son koelte vir die nageslag gee. Deur dié projek bevestig ons 185 jaar later steeds die Gelofte met die geloof en oortuiging dat dit wat ons vandag onderhou en bewaar met betrekking tot Afrikanergeskiedenis en -erfenis vir ons kinders en kleinkinders behoue sal bly en met toekomshoop sal inspireer.”

Barry Müller, die projekleier van hierdie projek en hoof van nasionale projekte by die FAK, beantwoord al jou vrae oor dié projek en waarom dit nodig is.

Wat is die inspirasie vir die projek?

Ons het geweet dat ons vir die Groot Trek 185-projek iets groot wou doen. Iets wat ons kon agterlaat vir ons nageslag. Dis nou 185 jaar sedert die Slag van Bloedrivier en ons begin reeds dink aan die 200-jaar viering van die Groot Trek.

Wanneer jy enige iets plant, plant jy dit vir die toekoms. Ons weet dat, oor 15 jaar met die 200-jaar viering, ons hierdie feesjaar gaan onthou en dankbaar terugkyk vir die skaduwee wat die bome ons bied.

Waarom by Bloedrivier?

Bloedrivier is ’n kultuurtuiste in die hartjie van Natal en brei ook vinnig uit. Ons is juis besig om nou nuwe ablusiegeriewe op te rig om meer voete te kan akkommodeer.

Daar is ’n behoefte na ’n kampterrein by die Bloedrivier-erfenisterrein. Buiten vir die direkte konnotasie met die Slag van Bloedrivier, is hierdie projek ook ’n antwoord op ’n vraag na koelte vir ’n lekker kampterrein. Eendag sal ons nageslag in die skadu van die bome kan kamp en met elke Geloftefees wat kom, gaan ons dit onthou.

Wat is die simboliek van die bome?

Bome is diep in die aarde gewortel en bied ’n veilige rusplek en skadu teen die elemente. Dit is ’n belegging in die toekoms.

Dit is ’n parallelle simboliek ook en is iets wat die FAK na aan die hart lê. Dié simboliek is dat dit wat ons vandag doen, ’n belegging is vir die toekoms van ons Afrikaneridentiteit. Vir ons taal, ons kultuur, ons geskiedenis. In alles wat die FAK doen, is ons besig om bome te plant en nat te lei, sodat die wat na ons die aarde beërwe, in die toekoms kan floreer. Dit is rentmeesterskap en dit is ook ons skeppingsdoel, so bepaal deur die Skepper.

My wens is dat hierdie projek ook ander sal inspireer om vandag aksie te neem om “koelte” te voorsien vir die toekoms.

Hoe werk dit?

Dit is ’n geskiedkundige projek en sal ons nalatenskap wees lank nadat ons nie meer op die aarde loop nie. Ons wou vir die Afrikanergemeenskap die geleentheid gee om deel te hê aan hierdie projek – om ook iets te kan nalaat vir die nageslag.

Verskeie direkte nasate van die mans wat by die Slag van Bloedrivier geveg het, het bome geskenk vir die projek. So ook het Geloftefeeste bygedra en lede van die publiek wat graag hul stukkie erfenis wou agterlaat.

Die skenkers se name verskyn op ’n plaatjie op die bome.

Watter tipe bome is daar alles en hoekom is daardie bome gekies?

Daar is verskeie faktore wat in ag geneem is vir die tipe bome wat uiteindelik gekies is vir die projek.

Die FAK het ondersoek ingestel op die natuurlike landskap van die area, asook watter inheemse bome op aangrensende plase en in die area groei, aard en veral ook floreer.

Tipe bome soos die Vanwykshout, Witkaree, Olienhout, Papierbas, Wildepruim, Kasuur, Witstinkhout, Witpeer, Huilboerboon, Henkel se geelhout is onder andere aangeplant.

Daar is ook verskeie ander bome wat deur die direkte nasate geskenk is.

Wie sien om na die bome?

Die personeel van die Bloedrivier-erfenisterrein sal na die bome omsien.

Die Voortrekkermonument se tuinboukundige, Alan Tait, het ondersteuning gebied met die aanplant en vestiging van die bome. Met sy kundigheid en opleiding aan die personeel sal hierdie bome kan floreer.

Al 185 bome is reeds gevestig op die terrein, reg vir die Geloftefees wat om die draai is.

Ons ontmoet mekaar daar in die skadu van hierdie bome in 2038. Saam kamp ons oor 15 jaar in die koelte van ons voorgangers met die wete dat nóg 200 jaar kan verloop en ons sal steeds getrou bly aan die Gelofte.