Mediaverklaring
29 Januarie 2024
Afrikaners staar een belangrike feit in die gesig: die regering gaan nie ons erfenis beskerm nie.
Daarom neem die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge sake in eie hande om die voortbestaan van standbeelde, erfenisterreine, monumente, gedenktekens en geskiedenis te verseker.
Lede van die FAK het die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Geskiedenissimposium bygewoon, wat verlede Vrydag (26 Januarie) plaasgevind het. Erfeniskenners met verskeie spesialiteite en jare se ervaring het tydens die simposium lesings gelewer. Almal het dieselfde gevolgtrekking gemaak: Erfenis in Suid-Afrika is in gedrang en ons moet self instaan en die toekoms daarvan verseker.
Prof. Anton van Vollenhoven, gerespekteerde argeoloog het die inleidende opmerkings oor die stand van erfenis in Suid-Afrika gemaak. Prof. Van Vollenhoven is van mening dat kultuurerfenis weens verskeie redes onder druk verkeer, onder andere ontwikkeling, kwaadwilligheid en onbekwaamheid.
Daar is talle voorbeelde van verval wat so alledaags geword het in Suid-Afrika en ons staar vele gebreke in die oë wat die bekamping van verdere verval uitdagend maak. Hieronder val onder ’n lang lys redes wat ook insluit die onvermoë van erfenispersoneel, min belangstelling van die gemeenskap en regering, die feit dat ons nie die nodige kundigheid tot ons beskikking het nie (ook weens onvoldoende opleiding) en te min erfeniswerkers.
In kort, die werk is groot en die finansies, hande en kundigheid is te min.
Wat kan ons dan daaraan doen?
Reeds in 2020 het die FAK met ’n inisiatief na vore gekom, waar die FAK gemeenskappe mobiliseer en bemagtig om self moue op te rol om ons Afrikanerkultuurerfenis te beskerm – die FAK-kultuurnetwerke. Ons het vandag meer as 30 netwerke regoor Suid-Afrika wat lede uit die gemeenskap gebruik om erfenisverval in hul gemeenskappe te bekamp.
“Ek dink die FAK is totaal op die regte pad, maar die FAK het ongelukkig nie genoeg hande nie, en dis juis hoekom die gemeenskappe belangrik is. Ten minste weet die gemeenskappe daar is ’n instansie waarnatoe hulle kan gaan. Baie keer is daar iemand in ’n gemeenskap, maar hy het geen idee waarnatoe hy kan gaan vir hulp nie,” sê prof. Van Vollenhoven.
Daarom is gemeenskapsondersteuning die sleutel tot volhoubare erfenisbewaring.
Leonie Marais, kultuurhistorikus en erfeniskonsultant by die FAK, was ook ’n spreker by dié geleentheid.
Marais is ook ’n voorstander van die gemeenskapsbenadering.
“Daar het in die laaste vyf jaar ’n opbloei in gemeenskapsbetrokkenheid plaasgevind, maar die werk wat gedoen word, is net pleisterwerk. Met ander woorde noodhulp. ’n Heel ander benadering sal met betrekking tot erfenisbewaring ontwerp moet word,” sê Marais.
Marais waarsku egter dat erfenisbeskerming steeds volgens wet gedoen moet word en dat lede van die publiek altyd ’n erfeniskenner moet nader om verdere skade te voorkom.
Prof. Wessel Visser, voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Geskiedeniskommissie, het in sy samevatting vier belangrike punte opgesom wat nodig is vir die volhoubare bewaring van kultuurerfenis. Dit is leierskap, effektiewe kommunikasie, ’n bevoegde span medewerkers en ondersteuning van die owerheid.
Die FAK moedig mense aan om betrokke te raak by erfenisbewaring binne hul gemeenskappe. Jy hoef nie die hele oplossing te wees nie, net ’n gedeelte daarvan. Deur te sorg vir erfenis in jou direkte omgewing, dra jy reeds by tot die volhoubare bewaring van ons kosbare en onvervangbare kultuurerfenis.
Wees die verskil. Kontak gerus vir Jaco Cilliers, die FAK se hoof van kultuurnetwerke by jaco@kultuurtuiste.org.za
In die foto’s hieronder is erfenisskade wat net in 2023 plaasgevind het by verskeie erfenisterreine en -bakens.