Ida Bester-Gräbe  & Isabel Groesbeek 

Geredigeer in 2020 na verskyning in ‘Scrapping & Kie’ (2010

Daar is wêreldwyd intense belangstelling in die opsporing van voorgeslagte, veral tot by die stamvaders in lande soos Suid-Afrika, die VSA en Australië. Dink maar aan die TV-reeks Who do you think you are? waarvan die Britse en Suid-Afrikaanse weergawes ook hier ter lande uitgesaai is. Individue en families wat graag hul familiefoto’s en familiestories in “scrapbook albums” as erfenisbladsye saamstel, kan deur hul genealogiese navorsing dit baie verryk en vir hul kinders stamregisters nalaat indien ’n persoon bo en behalwe die interessante ou familiefoto’s ook nog genealogiese dokumentering byvoeg.

Maar, vra jy, hoe begin ’n mens om hierdie soort inligting te versamel?

Begin by jouself. Skryf alles neer wat jy van jouself weet (jou ouers, grootouers, broers en susters se name, waar en wanneer gebore, waar en wanneer getroud/oorlede.

Dan gaan ’n mens verder met die grootjies en begin bronne raadpleeg wanneer jy vashaak.

Waar kry ek bronne?

Jy kan heel eerste begin deur familielede uit te vra. Dan kan jy bibliografieë raadpleeg om te sien wat is al gepubliseer. Besoek dan webblaaie vir argiefmateriaal soos van toepassing m.b.t. provinsie van afsterwe en/of kerkverband van doop ens. In argiefversamelings kan ’n mens kerkregisters soos doop- en huweliksregisters, asook boedels met sterfkennisse (death notices) raadpleeg en dan is daar ook nog testamente en boedelrekeninge in die betrokke boedellêers, die monsterrolle van die VOC (Hollandse owerheid aan die Kaap); geskiedenisboeke, foto’s, Familiebybels met inskrywings in, en dies meer.

Maar daar is navorsers wat vir ons die werk makliker maak en hul resultate kan gelees word in boeke soos die volgende:

De Villiers, C.C. & Pama, C. 1981. Geslagsregisters van die ou Kaapse families. 2 dele. Kaapstad.

Heese, J.A. & Lombard, R.T.J. 1986-2008. Suid-Afrikaanse Geslagregisters/South African Genealogies. 17 dele. (Eerste vier dele deur RGN te Pretoria uitgegee, dele 5-17 sedert 1999 deur GISA te Stellenbosch uitgegee).

Daar is ook baie private publikasies oor die bekendste en minder bekende families in Suid-Afrika.

Nog nuttige internetbronne is:

  •  www.familysearch.org vir geskandeerde argiefdokumente.
  • Aangesien ons volksvaders hul eerste in die Kaap gevestig het, is die Nasionale Argief in Kaapstad die rykste bron van inligting indien die oorsprong van jou familie so ver terugdateer. NAAIRS se webblad met verwysings na alle dokumente landswyd in die verskillende argiefbewaarplekke is www.national.archives.gov.za/naairs
  • FAK se Afrikanergeskiedenisdagboek by www.fak.org.za

En hoe teken ek my inligting aan?

Daar is drie tipe fokuspunte vir uiteensetting van jou familielede se name en besonderhede:

  1. Kwartierstaat. Hierdie staat fokus op voorsate en sluit uiteindelik al jou biologiese voorouers in – begin byvoorbeeld met jou eie naam bo-aan. In die tweede kolom (2 blokke) kom jou ouers se name; in die derde kom hul ouers (4), in die vierde elkeen van hulle se ouers (8) en in die vyfde kolom elkeen van hulle se ouers (16).
  2. Stamboom. Hierdie metode volg ’n direkte lyn m.b.t. óf jou pa óf jou ma se voorsate in hul familielyn. Jy neem byvoorbeeld jou pa, dan sy pa, oupa, oupagrootjie, ens. Dit is met ander woorde almal met dieselfde van/familienaam. Die name van elke voorouer se broers en susters kan ook ingesluit word vir stamregister.
  3. Geslagregister. Fokus op nasate. Indien jy die stamboom sover terugneem dat jy by die stamvader uitkom (die eerste persoon wat in die land aangekom het) kan jy ’n register van die stamouers se nasate aanteken.

Die inligting in hierdie artikel kom grotendeels uit Isabel Groesbeek, vroeër hoof van Genealogie-Inligting by die RGN en sedert Januarie 2020 die Hoof: FAK-Genealogielessenaar se genealogie beginnerskursus ‘Van waar Gehasi?’. 

Sluit gerus by die FAK aan as vriend vir voordele m.b.t. genealogiese dienste.

Isabel is beskikbaar vir ’n konsultasie en bied die beginnerkursus ‘Van waar Gehasi’ op navraag aan.

Die jaarlikse GENEALOGIE- & FAMILIE-ERFENISFEES, nou onder die vaandel van die FAK, is ’n uitstekende byeenkoms om jou vrae aan verskeidenheid van genealogiese navorsers te kom stel.

GOEIE RAAD: Moenie uitstel om ouer familielede uit te vra nie. Skandeer en beskryf foto’s en bewaar dokumente. Benut tyd om met familie oor jou persoonlike kultuurerfenis en familiestories te gesels.

Vir meer inligting besoek www.genealogielessenaar.com of stuur ‘n epos na isabel@fak.org.za