Genl. Gert Opperman en sy vrou, Ria, tydens die bekendstelling van sy boek, Uit genade, bo verdienste!, in die De Kroonsaal by Fort Schanskop.

Genl. Gert Opperman, wat vir 11 jaar aan die stuur van die Voortrekkermonument was, het onlangs ’n outobiografie, Uit genade, bo verdienste!, die lig laat sien.

Len Dekker, ’n senior prokureur, het tydens die gesamentlike direksieberaad van die Voortrekkermonument (VTM), Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Erfenisstigting (ES) in Maart vir Opperman gevra om die sluier oor bepaalde sake deur sy loopbaan te lig.

Die boek bevat onder meer insiggewende besonderhede van sy suksesvolle weermagloopbaan van 33 jaar (1963 tot 1996), wat gekenmerk is deur ’n hele aantal sensitiewe en invloedryke sleutelposisies wat hy beklee het. Hy was allerweë bekend as ’n mens van vele fasette en ’n baie suksesvolle bevelvoerder en leier wat sy span deurlopend tot unieke prestasies aangespoor het.

Opperman het van kindsbeen af in die militêre sektor belang gestel. “Ek wou in standerd 6 (vandag graad 8) ’n vegvlieënier word, maar my ouers was nie daarvoor te vinde nie. Die volgende jaar het ek besluit ’n soldaat is ’n goeie alternatief en ek kon my droom deur middel van Die Voortrekkers uitleef. Toe my militêre diensplig aanbreek, was ek gereed vir die weermag.”

Opperman het die aandag op hom gevestig toe hy tydens die Bosoorlog vir die politici gesê het die weermag kan slegs tyd koop, maar dat vrede slegs bereik kan word deur ’n politieke oplossing.

Hy sê die militêre sektor en die sekerheidsdienste het van vroeg af al ’n onderhandelingstrategie uitgewerk, maar die voormalige president F.W. de Klerk het hierdie strukture afgebreek. Dit het aanleiding gegee tot die “nag van die generaals”, toe hy 23 senior generaals sonder enige gronde afgedank het ter voorbereiding van die oorgangsonderhandelinge. “Dit het daartoe gelei dat ons nie meer ’n bodekking gehad het nie, wat ons werk baie moeilik gemaak het, maar ons het dit steeds reggekry om ’n vreedsame oorgang te verseker,” sê Opperman.

 

Len Dekker, ’n prokureur verbonde aan Pro Patria-veterane, in gesprek met genl. Gert Opperman met die bekendstelling van Opperman se boek, Uit genade, bo verdienste!, tydens die gesamentlike direksieberaad van die Voortrekkermonument (VTM), Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Erfenisstigting.

Volgens Opperman het hy die boek op vriende en kennisse se aandrang geskryf, nadat hy dit vir baie jare weerstaan het. Dit het gespruit uit sy groeiende besef van hoe min die huidige geslag van dié sleuteltydperk in Suider-Afrika se geskiedenis weet en die verdraaiings waaraan hulle blootgestel word. Voorts wou hy graag getuig van en erkenning gee vir die groot bydraes en opofferings wat deur soveel mense gedoen is.

Hy was vanaf Maart 2000 betrokke by die Voortrekkermonument en tot Augustus 2011 was hy die hoof van die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting. Daarna het hy tot einde Desember 2014 as hoof van die Erfenisstigting voortgegaan. Dié tydperk is gekenmerk deur ’n positiewe ommekeer en groei.

“Om die Voortrekkermonument reg te ruk, moes ek wegkom uit die politiek en aktief werk aan die destigmatisering van die Monument,” sê Opperman. Hy het sedertdien ’n prominente rol gespeel ten opsigte van militêre veterane. Hy het onder meer leiding geneem met die oprigting van die SAW Muur van Herinnering en die Weermag-nismuur op die Voortrekkermonumentterrein. Hy het voorts as voorsitter van die Ebo Trust ’n groot bydrae gelewer in die suksesvolle opsporing en terugbring van die oorskot van SAW-soldate wat in 1975 in Angola op die slagveld agtergelaat moes word. Dit ten spyte van die burokratiese weerstand wat die Angolese en Keniaanse regerings teen hierdie poging gebied het.