Mediaverklaring

29 September 2023

Die Matlosana-munisipaliteit het onwettig, onregmatig en teenstrydig met erfenismaatreëls die Groot Trek 1938 Eeufees-gedenksteen in Klerksdorp verwyder en ’n gedenksteen in die plek daarvan opgerig.

Hierdie aksie is direk teenstrydig met die Wet op Erfenishulpbronbestuur 25 van 1999. By navrae by die Noordwes Erfenisliggaam is daar bevestig dat geen skriftelike aansoek gedoen is om hierdie gedenksteen op te rig nie, en dat die munisipaliteit self besluit het om die gedenksteen te vervang.

Jaco Cilliers, kultuurhoof van die Federasie van Afrikaanse kultuurvereniginge (FAK), het sy misnoeë oor die aangeleentheid ten sterkste uitgespreek.

“Die FAK het deur sy kultuurnetwerke in die sentrale streek onder leiding van Jan-Danie Malan van die gedenksteen-onthulling te hore gekom. Ons het kontak gemaak met die Provinsiale Erfenisraad, waarna ons bevestiging ontvang het dat daar geen permit toegeken of aangevra is, hetsy skriftelik of mondelings, om die gedenksteen te vervang nie.

“Hierdie monument is vir ’n bepaalde rede opgerig en daardie rede moet in historiese konteks verstaan en gerespekteer word. Deur hierdie gedenksteen juis daar op te sit, is heeltemal buite die konteks van erfenis en die vraag moet gevra word: wat wil die munisipaliteit hierdeur bereik?”

Op die gedenksteen wat Maandag 25 September 2023 in die plek van die Groot Trek-gedenksteen opgerig is, verskyn die name van die munisipale werkers wat as gevolg van die Covid-19-pandemie gesterf het.

“Die munisipaliteit het uiteraard die volste reg om erkenning te gee aan hierdie persone en die FAK het geen probleem met die oprig van só ’n gedenksteen nie, maar dit is nie die regte plek of monument om dit te doen nie, want dit strook nie met die regte konteks nie,” sê Cilliers.

“Ons veroordeel ten sterkste hoe hulle geen gehoor gee aan hulle eie wetgewing nie en onwettig optree in terme van die wet.”

Die FAK eis antwoorde by die munisipaliteit oor hoekom die besluit geneem is om dit by hierdie spesifieke monument op te rig, wie verantwoordelik is vir die besluitneming en hoekom hulle doelbewus gekies het om die wet te verontagsaam.

Dié gedenkmonument is met die Voortrekkereeufees in November 1938 ingehuldig. Die Johanna van der Merwe-wa en die Margaretha Prinsloo-wa se spore kan vandag nog by die monument gesien word.

Op die monument was ’n ossewawiel, wat ook al ’n geruime tyd verwyder is en die Eeufees-gedenksteen is gebreek. Vandalisme is waarskynlik die rede hiervoor.

Die FAK het bevestiging ontvang dat daar ondersoek ingestel sal word deur die Provinsiale Erfenisraad en wag op die resultate van die ondersoek.