Op 5 April het die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), in samewerking met die Moths (Ratel-, Crater- en Gonda Shellhall), ’n kranslegging by die graf van Barry Hertzog gehou om die lewe en nalatenskap van dié legendariese man, skuins ná die herdenking van sy geboortedag, te vier.
Charles Rademeyer, die FAK se kultuurkoördineerder in die noordelike provinsies, het die voorreg gehad om namens dié organisasie ’n krans op Hertzog se graf te lê en genoem dat hy groot waardering het vir Hertzog as leier.
“Vandag staan ons hier om hulde te bring aan een van die grootste Afrikanerleiers van die 20ste eeu – Generaal James Barry Munnik Hertzog. Hy het sy lewe gewy aan die bevordering van die Afrikaner se belange; ons taal, kultuur en reg om as ’n vrye volk in Suid-Afrika te leef,” sê Rademeyer.
“Hertzog het in 1942 gesterf, maar sy nalatenskap is vandag steeds ’n inspirasie vir almal wat die Afrikaner se toekoms ter harte neem. Om Hertzog self aan te haal: ‘Die stryd vir ’n volk se voortbestaan eindig nooit’, en vandag is dit belangriker as ooit om hierdie woorde van Hertzog te onthou en eienaarskap van ons erfenis te neem.”
Hertzog is op 3 April 1866 op ’n plaas naby Wellington in die Boland van die Kaapkolonie gebore.
Hy is die regeringshoof wat die langste in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gedien het, van 1924 tot 1939. Vanjaar, 159 jaar ná die geboorte van dié legendariese Afrikanerleier, kyk die FAK dankbaar terug na die diep spore wat hy getrap het én die wysheid waarmee hy die leiers van die toekoms geïnspireer het.
In 2022 het die FAK die voorreg gehad om in Hertzog se huis, waar sy kleinseun Basie en sy eggenote Tilla vandag steeds bly, Hertzoggies en tee te geniet, en te luister na die verhale wat oom Basie oor sy oupa vertel het. Oom Basie en die res van die Hertzog-familie het saam met die Moths en die FAK hul kranse gelê en is trots om deel te kon hê aan ’n geleentheid wat hul bekende oupa en oupagrootjie vier.
Ziegfried van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK, sê dit is vir hom besonders spesiaal om te weet dat die helde uit ons verlede steeds voortleef in die Afrikanerhart.
“Paul Kruger het gesê: ‘neem uit die verlede alles wat goed en mooi is en bou daarop die toekoms’; en dit is juis waarom geleenthede soos vandag so belangrik is,” sê Van Huyssteen.
“Vir die FAK is dit belangrik om voort te bou op die werk wat mense soos Hertzog gedoen het en ’n beter toekoms vir ons taal, kultuur, geloof en erfenis te bou. Dit is wonderlik om te sien hoe organisasies soos die Moths in hierdie toekomsideaal deel.”
Kruger se onsterflike woorde is vir Van Huyssteen nie net nog wyse woorde van ’n groot Afrikanerleier nie, maar ’n oproep tot aksie.
“Vandag het ons nie net Hertzog se lewe gevier nie, maar nog ’n tree vorentoe gegee in die toekoms deur te leer uit die lewe van ’n ware leier en inspirasie te vind om die leiers van die toekoms te word.”