In die lewe is daar twee tipes mense: mense wat van en by reëls hou, en mense wat reëls sien as riglyne of kies om dit te breek. Dit is nie anders as dit by taalreëls kom nie. Daar is die taalpuriste wat nie sal skroom om iemand op hul taalfoute te wys nie, en dan is daar diegene wat glo as hulle die boodskap kan oordra en mense dit verstaan, taalreëls nie so belangrik is nie.

Hierdie artikel poog nie om kant te kies nie, maar om te verduidelik hoekom daar taalreëls is en waarom dit ’n belangrike rol speel.

Wie maak die reëls?

Mense wat nie daarvan hou om reëls te volg nie, verstaan gewoonlik nie hoekom ’n reël belangrik is nie of wie ’n reël gemaak het nie. Alhoewel die Afrikaanse Taalkommissie en taalkundiges ’n groot rol daarin speel om taalreëls vas te stel, is dit taalgebruikers wat die reëls bepaal. Hoe die groter hoeveelheid van die publiek praat en skryf, word in ag geneem wanneer die reëls opgeteken word.

Taalreëls is belangrik vir die ontwikkeling van ’n taal

Die AWS word elke vyf jaar bygewerk. Die vinnigste wat ’n taal tot uitsterf kom, is as die taalreëls nie byhou met die ontwikkeling van die taal nie. Soos mense praat en ’n taal beïnvloed word, brei die woordeskat uit en moet die taalreëls soms aangepas word. Dit gebeur egter binne die raamwerk van die standaardreëls en word goedgekeur deur ’n paneel van kenners in die gebied.

Reëls stel ’n standaard en bevorder kommunikasie

Net soos daar registers is waarin daar gepraat word vir gepaste situasies (formeel, informeel, gemoedelik, ens.), is taalreëls nodig om in ’n sekere styl en register te skryf. Goeie grammatika en spelling bevorder kommunikasie en help die leser om die boodskap wat die outeur wil oordra, beter te verstaan.

Korrekte spelling en grammatika word geassosieer met betroubaarheid, intelligensie en status

Nie almal is taalkundiges of het ’n goeie taalaanleg ontvang nie en dit is heeltemal verstaanbaar. Ongelukkig is daar ’n stigma rondom swak spelling en taalgebruik. Besighede wat byvoorbeeld ’n taalfout in ’n advertensie het, se geloofwaardigheid en betroubaarheid kan bevraagteken word. ’n Persoon wat iets op sosiale media plaas met swak spelling, kan maklik bestempel word as “onintelligent”. Om hierdie rede is dit tog belangrik om op taalreëls te let.

Volgende keer as ’n taalpuris jou in die hande kry, probeer maar onthou wat hulle sê. Goeie taalgebruik is iets wat ’n mens moet oefen en toepas om dit te bemeester. Noudat jy weet hoekom taalreëls belangrik is, vind jy dit miskien makliker om die reëls te gehoorsaam.

Hoekom is taalreëls belangrik?