Tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het tussen 400 en 500 Iere hulle met die Boere se stryd om vryheid vereenselwig. Dit was ’n kameraadskap wat vandag steeds voortleef in ons verhale én monumente reg oor die land.
Een so monument is die Ierse Monument in Orania waar die FAK op 17 Maart, op die herdenking van St. Patrick’s Day, hulde gebring het aan die ongeveer 500 Ierse soldate wat saam met die Boere geveg het in hul stryd vir onafhanklikheid van die Britte.
Dié besonderse geleentheid is deur die Orania Bewaringstigting (OBS) georganiseer en dit was vir die FAK ’n reusevoorreg om deel te kon hê aan hierdie mooi geleentheid.
Cara Tomlinson, die FAK se kultuurkoördineerder in die Noord-Kaap, sê dit is vir haar en die FAK kosbaar om hande te kan vat met ander organisasies wat, soos die FAK, hul lewens wei aan die uitbou en beskerming van ons ryk kulturele erfenis. Daarom vertel sy, was dit vir haar belangrik om die OBS hiér te ondersteun.
“Die FAK-Noord-Kaap se kultuurnetwerke ondersteun graag inisiatiewe soos hierdie omdat dit belangrike geskiedenis lewendig hou en die waarde van goeie verhoudings met ander lande beklemtoon,” sê Tomlinson.
“Vandag het ons die geleentheid gehad om saam met die OBS hulde te bring aan ’n groep buitelanders wat hul harte en hande oopgemaak het vir ons toe ons hulle die nodigste gehad het. Hierdie les is vandag steeds van toepassing en daarom is dit belangrik om hierdie mans se nalatenskap te bly herdenk.”
Die OBS het dié geleentheid gereël met die doel om die Afrikanergeskiedenis aan die volgende geslag oor te dra en in opregte dankbaarheid hulde te bring aan die Iere wat die Boere in een van die moeilikste stryde in ons geskiedenis bygestaan het. Daarom is daar besluit om die geleentheid op die dag van een van die Iere se belangrikste kultuurfeeste aan te bied.
St. Patrick’s Day, (ook bekend as Lá Fhéile Pádraig, oftewel “the Day of the Festival of Patrick”), is ’n belangrike godsdienstige en kulturele vakansiedag wat jaarliks op 17 Maart, die sterfdatum van Saint Patrick (c. 385–c. 461), een van die belangrikste beskermheiliges van Ierland, herdenk word.
Die herdenkingsdiens is met Skriflesing en gebed geopen waarna die rol van die Ierse vrywilligers in die vryheidstryd aan die gehoor verduidelik is. Lees gerus hier meer oor die Ierse monument.
Die dag is afgesluit met die sing van die “Lied van die Ierse Vryheidsvegter” deur Herman van den Berg. Daarna is ’n heildronk (natuurlik ’n groen drankie) ter ere van die Ierse helde ingestel.
“Dit was ’n waardige en simboliese herdenking van diegene wat hul lewens vir vryheid opgeoffer het,” sluit Tomlinson af.
“Mag ons altyd onthou sodat ons daarop kan voortbou.”
Barry Müller, die FAK se hoof van nasionale projekte, sê dit is werklik inspirerend om te sien hoe gemeenskappe saamkom om hul erfenis te vier en uit te leef.
“Dit is vir die FAK wonderlik om deel te kon wees van hierdie inspirerende projek van die OBS,” sê Müller.
Hy beklemtoon dat die FAK se fondasie in gemeenskappe lê, “daarom het ons oor die jare ons kultuurnetwerke nasionaal uitgebou om gemeenskappe te inspireer om eienaarskap te neem en hulle te bemagtig om hul kulturele erfenis te bewaar en uit te bou. Dit is werklik vir ons ’n riem onder die hart om te sien hoe gemeenskappe soos Orania en hul kultuurorganisasies kragte saamspan om te bou, te bewaar én te onthou.”
Müller hoop om oud en jonk te inspireer om, soos die OBS en die FAK se Kultuurnetwerk in die Noord-Kaap, hul erfenis elke dag uit te leef.
“Hierdie gedenkdiens in Orania is vir my werklik inspirerend omdat dit weereens bewys hoe groot verskil ’n gemeenskap kan maak, groot of klein. Ek wil elke Afrikaner aanmoedig om ook betrokke te raak by die FAK.” Kontak Barry by [email protected] indien jy sáám met ons ’n verskil wil maak en ’n toekoms wil bou.