Mediaverklaring
29 April 2024
Het jy al ooit gewonder wat is die verskil tussen boeredanse en volkspele? Is hierdie tradisionele danse nog relevant vandag? Is dit net ouer mense wat nog in dié dansvorms belangstel?
Op Internasionale Dansdag ondersoek die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) ons tradisionele danse: volkspele en boeredanse. Ons gesels met prof. Anton van Vollenhoven, voorsitter van die Noordelike Volkspelekring en laerleier van Aandblom-laer, asook Danette Smith, stigterslid en afrigter van die Wapadrand Boeredansgroep.
Wat is die verskil tussen volkspele en boeredanse?
Die meeste mense sal miskien hul skouers optrek en sê dat hulle nie geweet het daar is ’n verskil nie, dat volkspele en boeredanse bloot sinonieme is van mekaar.
Om beter te verstaan hoe volkspele en boeredanse ontstaan het, verduidelik prof. Van Vollenhoven die oorsprong van volkspele.
“Volkspele het ontstaan nadat doktor Pellissier in 1912 in Swede studeer het; in die aande het die studente bymekaargekom en volksdanse gedoen. Hy het gedink ons het nie so iets nie en wou iets soortgelyk in Suid-Afrika doen. Hy het van die Sweedse danse se woorde in Afrikaans vertaal en hier vir jongmense kom aanleer. Hy was lank die direkteur van onderwys in die Vrystaat; dit het hom gehelp om spesifiek by skole in die Vrystaat te begin,” vertel Van Vollenhoven.
Na die ontstaan van volkspele het dit uitgebrei en ander vorme van dans het daarby aangehaak, onder andere boeredanse.
“Die groot verskil tussen volkspele en boeredanse is, volkspele is nie ’n pare-dans nie. Met ander woorde, jy het nie een maat en speel die heeltyd met daardie maat nie. Die spele word in ’n kring gedoen. Jy gaan met jou maat in, maar wissel die heeltyd van maat tussen die spele deur. So jy kry eintlik ’n geleentheid om met almal te speel/te dans. Terwyl in boeredanse het jy ’n spesifieke maat waarmee jy dans. Vir een dans, dans jy net met een persoon,” verduidelik Van Vollenhoven.
Smith kleur die prentjie verder in. “Daar is ’n wesenlike verskil tussen volkspele en boeredanse, maar beide dissiplines het ’n regmatige plek in die Afrikanerkultuur,” sê sy.
“Volkspele het streng vasgestelde reëls betreffende kleredrag, waar met boeredanse die kleredrag per geleentheid en streek bepaal word. Waar spelers van volkspele ook sing tydens die uitvoering van die speletjies, is sang nie teenwoordig by boeredanse nie,” vertel Smith.
Smith wys egter daarop dat daar wel sekere uitroepe kan wees tydens boeredansspele of dat sangers deel kan uitmaak van die boereorkes.
“Boeredanse het vrye interpretasie van die musiek en elke paartjie doen wat hulle wil,” sê Smith.
Wie neem nog deel aan hierdie vorm van dans?
Beslis nie niemand, of net oumense soos sommige jongmense sou dink nie! Die Wapadrand Boeredansgroep is al 20 jaar oud en 40 lede sterk!
Volgens Smith is hul jongste lid 9 jaar oud en hul oudste lid 18 jaar oud.
“Erika-laer het 100 lede, Polkadraai het ongeveer 20-30 lede, Aandblom, waarvan ek die leier is, het ongeveer 20 lede. Dan het ons ook twee junior laers,” verduidelik Van Vollenhoven.
Die jongste lid uit die Volkspele-gade is 7 jaar oud en die oudste lid is 91 jaar oud.
Die relevansie vandag in ’n moderne samelewing
Is volkspele en boeredanse nog relevant vandag in die moderne samelewing?
“Boeredanse het beslis nog ’n plek in ons samelewing,” is Smith se mening.
“’n Groep soos die Wapadrand Boeredansgroep is beslis relevant omdat die kinders deelneem aan ’n Afrikaner- geankerde aktiwiteit waar hulle blootgestel word en meedoen aan boeredanse as ’n Afrikanertradisie, maar behalwe dit word hegte vriendskappe gesmee en selfvertroue gebou. Die kind is in ’n veilige omgewing, sonder kompetisie, buitengewone verwagtinge en druk waar hy/sy ’n vaardigheid aanleer wat vir die res van sy/haar lewe van nut kan wees,” sê Smith.
Relevansie vir Van Vollenhoven is iets waaroor daar gedebatteer kan word. “Ek dink dit is relevant vir diegene wat dit beoefen. Dit is vir hulle lekker. Dis ’n lekker tydverdryf. Dit word as ’n sterk kulturele aktiwiteit beskou. Die vertonings wat ons hou en pragtige patrone uitwerk, kan nogal baie luister verleen aan ’n feesgeleentheid. Dis natuurlik ook baie goeie oefening. As ek volkspele doen, raak ek gou moeg. Die relevansie is baie persoonlik.”
Smith wys ook daarop dat dans nog altyd deel uitgemaak het van die Afrikaner se sosiale lewe en ’n ontvlugting was deur moeilike tye. Vandag is dit steeds ’n manier van ontspan.
“Enige aktiwiteit waar jy hierdie ervaring kan opdoen, is definitief relevant in vandag se moderne samelewing, want ons behoefte om te behoort, geborge te voel en van nut te wees, sal nooit verander nie,” sê Smith.
Hoe kan ’n mens maak om aan te sluit by ’n boeredans- of volkspelegroep?
“Die Wapadrand Boeredansgroep se teikengroep is Graad 6-12 seuns en dogters. Om lid te word van die groep is die ideaal dat die kind die boeredanskamp bywoon wat in Maart plaasvind alhoewel uitsonderings al gemaak is en kinders later of selfs vroeër in die jaar al begin saamdans. Die groep se e-pos is: boeredansgroep@gmail.com waar verdere inligting aangevra kan word,” sê Smith.
En volkspele?
Die Volkspelebeweging het ’n webwerf en daarop kan enige iemand die naaste volkspelegroep in hulle dorp vind met die kontakbesonderhede en van daar af kan mense aansluit.
Tradisionele danse is deel van die Afrikanerkultuur, daarom kan hierdie dansgroepe ook gesien word by die Erfenisfees wat die FAK jaarliks reël. Jou vriendskap kan ons help om ons kultuur en erfenis vir die nageslag te bewaar en te beskerm: https://fak.org.za/vriende-van-die-fak/.